LUR gekap ná Zuma nie by veldtogbekendstelling opdaag

Min mense het die bekendstelling van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders bygewoon. Foto: ANA

Die ANC in die Oos-Kaap het Maandag uitgevaar teen ʼn Oos-Kaapse LUR en háár geblameer vir die mislukte bekendstelling van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.

Pres. Jacob Zuma het Saterdag nie by dié bekendstelling opgedaag soos daar verwag is nie.

Maroela Media het vroeër berig Zuma was veronderstel om die geleentheid wat om 10:00 sou begin toe te spreek, maar ʼn verklaring is later deur die presidensie uitgereik om aan te dui die president sal deur Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie, verteenwoordig word. Daar is geen rede gegee vir die verandering nie.

Phumulo Masualle, die Oos-Kaapse premier, het aan mense teenwoordig vertel Zuma het nie die geleentheid bygewoon nie, want “dit was nie op skedule nie”.

Lulama Ngcukayitobi, provinsiale sekretaris van die ANC, het egter die skuld op Nancy Sihlwayi, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, gepak en haar beskuldig dat dié geleentheid opsetlik verongeluk het.

Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie. Foto: ANA

“Die geleentheid is opsetlik deur haar gesaboteer. Sy het uit roekeloosheid en moedswilligheid teen die besluit en die advies van alle outoritêre liggame ingegaan om die voorafbeplande geleentheid van Alfred Ndzo na Nelson Mandela Metro te skuif net om haar behoefte te bevredig om aan politieke faksiegevegte deel te neem,” het Ngcukayitobi gesê.

Sy het bygevoeg dat geen president ʼn geleentheid wat só swak georganiseer was sou steun nie. Die hoofdoel van die geleentheid was volgens haar om “ANC-faksie hemde” uit te deel.

Sommige mense wat die verrigtinge bygewoon het, het hul teleurstelling uitgespreek en gesê hulle het uitgesien “om Zuma te groet”. Ander het aangevoer die ware rede waarom Zuma nie opgedaag het nie, is die swak bywoning van die verrigtinge. Sommige mense het ook van die geleentheid gebruik te maak om T-hemde uit te deel wat Nkosazana Dlamini-Zuma as presidensiële kandidaat vir die ANC ondersteun.

Ngcukayitobi het ʼn beroep op Sihlwayi gedoen om die rede dat sy die geleentheid geskuif het bekend te maak asook te verduidelik hoe sy die openbare koffers gaan vergoed vir haar “swak oordeel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel Strydom ·

Geen veldtog vir vrouens en kinders nie. Net Politiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.