LUR in die pad gesteek wat glo beeste steel

Job Mokgoro, Noordwes-premier. Foto: ANA

Die premier van Noordwes het vier LUR’e afgedank in sy eerste hersamestelling van die provinsiale kabinet nadat hy in Junie vanjaar die leisels by die afgesette Supra Mahumapelo oorgeneem het.

Die vier LUR’e wat premier Job Mokgoro in sy kabinetskommeling weggelaat het, is Magome Masike (gesondheid), Manketse Tlhape (landelike ontwikkeling, omgewingsake en landbou),  Mmule Maluleke (openbare werke) en Hoffman Galeng (maatskaplike ontwikkeling), berig African News Agency.

Madoda Sambatha, die SAKP se provinsiale sekretaris, keer terug na die kabinet as LUR vir gesondheid nadat Mahumapelo hom in Junie 2017 die trekpas gegee het oor aantygings ten opsigte van die verkoop van staatsgrond in Mahikeng.

Sambatha het die grond glo in November 2016 afgeteken, maar destyds ontken hy het dit verkoop. ʼn Jaar later het Mahumapelo die tuig onseremonieel neergelê ná ʼn vlaag diensleweringsbetogings.

Tlhape is in die pad gesteek nadat sy na bewering 44 beeste gesteel het wat vir ʼn ontluikende boer bestem was, berig Mail&Guardian.

Die weekblad het in September onthul hoe Tlhape, ʼn bondgenoot van Mahumapelo, na bewering beamptes by AgriDelight opdrag gegee het om ʼn kudde Simbrabeeste op 23 Junie 2017 op haar plaas van R3 miljoen in die omgewing van Magaliesburg af te lewer.

Die beeste vwas glo eintlik vir ʼn ontluikende boer bestem

Die beeste van meer as R500 000 was glo eintlik bestem vir ʼn ontluikende boer op die LUR se tuisdorp, Delareyville. Tlhape het die bewerings ontken, maar dokumente wat M&G bekom het, toon dat haar halfbroer die afleweringsnotas op haar plaas onderteken het.

Terwyl Tlhape nou meer tyd sal hê om haar op die boerdery toe te spits, het Mokgoro drie LUR’e behou: Ontlametse Mochware (kultuur, kuns en tradisionele aangeleenthede), Mpho Motlhabane (gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur) en Sello Lehari (onderwys en sportontwikkeling).

Maphefo Matsemela is die nuwe LUR vir finansies nadat Wendy Nelson oorgeplaas is na toerisme. Motlalepula Rosho is die nuwe LUR vir plaaslike regering en menslike nedersettings, en Oageng Molapisi neem die leisels oor by openbare werke en paaie.

Desbo Mohono is geskuif van toerisme na landelike ontwikkeling, toerisme en landbou, en Fenny Gaolaolwe word oorgeplaas van plaaslike regering en menslike nedersettings na maatskaplike ontwikkeling.

Die DA se premierskandidaat, Joe McGulwa, sê die kabinetskommeling is “nutteloos” en “ʼn wanhopige poging” om die mislukkings van die provinsiale regering as ʼn nuwe era voor te hou. “Die swaarkry wat die meeste inwoners van Noordwes steeds moet verduur, is die regstreekse gevolg van die mislukkings van die ANC-regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

alida ·

Mens snak jou asem met al die goed wat nou uitkom. Maar weereens geen vervolging!!!

ChrisE ·

Dit klink vir my bekend. Ek het in my standerd 2 geskiedenis klas gehoor wat die oorsaak van die grensoorloë tussen die setlaars en die plaaslike bevolking was. Ek praat onder korreksie dat die voorvalle reeds in die 1800’s in die Oos Kaap voor gekom het. Wys jou die geskiedenis herhaal homself.

SjN ·

Skelms, dit is bekend en niks gebeur nie. Viva, rommelstatus.

stoffel ·

as dit reen moet jy skep, die regering doen dit uitstekend.

Poot ·

Whaaahahahahaha……
Elke dag in hierdie wonderlike land van ons word ek net al hoe meer verbaas. Eintlik verbaas niks my meer nie.

Geregtigheid ·

Van wanneer af is dit dat daar so met skurke gehandel word. “net in die pad gesteek???Vervolg hulle krimineel en gee hulle oranje oorpakke. Of is sulkes nou bo die regstelsel???

alida ·

Daar sal net ‘n paar tronk toe gaan dan gaan dit stop. Begin sommer by ex no 1 en al sy trawante. Die wat dan nog daaraan dink sal tweekeer dink. Hopenlik. Kom ons kyk wat doen die nuwe hoof van die NVG. Hoop sy het staal in haar.

ne ·

Ek is bevrees ons sal een hele provinsie vol tronke moet bou om al die skelms te huisves. Wonder watter provinsie is die grootste?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.