LUR ‘kry weeldemotor vir Kersfees’

Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer. Foto: Facebook

Die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid het as deel van die provinsie se aangepaste begroting ʼn nuwe motor van amper R1 miljoen gekry.

ʼn Deel van die gesondheidsdepartement se aangepaste begroting, wat Donderdag goedgekeur is, is ʼn bedrag van R901 000 vir die LUR se nuwe ryding, sê Bobby Stevenson, DA-lid van die provinsiale wetgewer, terwyl die departement net R325 000 bymekaar kon skraap vir rolstoele, gehoorapparate en ortotika.

“Dié buitensporige uitgawe wys net hoe uit voeling die gesondheidsdepartement met die werklikheid is,” meen Stevenson, wat die motor as ʼn vroeë Kersgeskenk vir die LUR beskryf het. “Ons veroordeel dit ten sterkste.”

Hy sê die feit dat ʼn LUR ná ʼn verkiesing op ʼn nuwe voertuig geregtig is, beteken dié uitgawe, so kort voor die verwagte verkiesing in Mei aanstaande jaar, is ʼn volslae vermorsing van geld.

Om ʼn voertuig teen dié prys te koop, wys die middelvinger vir besuinigingsmaatreëls.

“ʼn Mens moet die vraag vra: Wat het geword van die fiskale konsolideringstrategie van die minister van finansies?” sê Stevenson. “Om ʼn voertuig teen dié prys te koop, wys die middelvinger vir besuinigingsmaatreëls.”

Hy meen die provinsie trek “ongetwyfeld” noustrop. “Die departement het ʼn bykomende R4,1 miljard versoek in die aangepaste begroting, maar net R675 miljoen gekry. Gesondheid het R1,8 miljard gevra en R325,9 miljoen gekry. Onderwys wou R1,247 miljard hê, maar het R126 miljoen gekry.”

Hy sê wat die gordel stywer trek betref, is die Oos-Kaap “se gordel steeds te los”. Die provinsie het in die afgelope jaar minstens R1,4 miljard aan niewesenlike uitgawes bestee, soos R101,5 miljoen vir spyseniering, R565 miljoen aan konsultante en R792 miljoen aan vervoer en verblyf. “ʼn Mens sou dink die LUR sou groter besnoeiings aangekondig het as die R45 miljoen wat dit genoem het.”

Stevenson het gesê in baie lande is sprake van “toesighouer-politiek” waar geen geld ses maande voor ʼn verkiesing aan nuwe voertuie, geboue, huurkontrakte of advertering bestee word nie.

“Ons gun die LUR ʼn veilige, ordentlike ryding, maar in die lig van die provinsie se kontantkrisis sou ʼn mens van die LUR verwag het om ʼn beter voorbeeld te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

christa ·

ek weet net nie hoekom mense in sulke duur motors ry nie. Is dit maar om vir almal te wys hoe ryk jy is of is dit omdat jy niks gewoond is nie. Dis ons Jan Publiek se geld wat so gemors word vir hul weelderige lewe

leser ·

nuwe ryding voor kersfees, nou kan die ander swart minderbevoorregdes sien hulle grootkoppe kry nuwe goed, so hulle verwag dat hulle ook iets sal kry, so – stem – anc – africa no current –

Geregtigheid ·

Dis nou geld mors. Hoekom kan hulle nie ook die punch vat wat ons burgers moet hanteer nie??

Alida ·

Wat dink julle wat kos Julius se blou brigade? Dit is baie meer en totaal en al onnodig.

Gatvol ·

Waarom ʼn nuwe voertuig? Wat het geword van die vorige voertuig wat sekerlik ook ʼn veilige motor was? Daar moet perke op voertuigaankope geplaas word en die staatsgarage moet gebruik word om voertuie te poel waar dit getrek kan word vir gebruik soos en wanneer nodig.
Stop die onnodige geldvermorsing!

Ja Nee ·

Politiek bly maar korrup maak nie saak wie die party is nie, die verskil is van hulle net meer as ander.

HPV ·

Hierdie mense het geen einde, hulle sien geen rede en sal werklik eers stop as daar niks meer oor is nie. Niks soos in geen geld, geen water, geen voedsel, geen infrastruktuur en so kan mens tot vervelens toe aangaan. Wat help dit mens skryf dit hier, hulle lees dit tog nie en voel in elk geval ‘n veer. As alles in as en rook opgaan sal internasionale hulp weer tot hul redding kom. Mens probeer positief wees, welvaart skep, maar realiteit praat hard! Ons hoef nie so te lewe, dit sal nooit beter word nie, pak en gaan terwyl mens nog kan.

AH ·

Wat is four met ‘n viertuig teen ‘n derde van die prys? Hy gaan sekerlik nie die motor vir sy werk gebruik nie, maar eerder om hom tot by sy kantoor te bring. Dit is ‘n dom ding om te doen in hierdie huidige ekonomiese klimaat. Mens kan net jou kop skud.?

Mariana ·

Die regte ding van hierdie LUR sou wees om te sê dankie maar nee dankie. Onnodige geld vermorsing soos gewoonlik. Maar ja terwyl die belastingbetaler opdok hoekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.