LUR moet nou ingryp by Nigel

Kriminele het boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – gesteel (Foto: Verskaf)

Die VF Plus het Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng, versoek om dringend in te gryp by die kragkrisis in Nigel aan die Oos-Rand.

Inwoners van dié dorp sit al sedert Sondagmiddag sonder krag weens kragtoevoer wat onderbreek is toe ʼn kragmas in die omgewing omgeval het. Dít nadat boosdoeners vermoedelik met die mas gepeuter het.

Jennifer Glover, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad, sê dié party is sedertdien daagliks in gesprek met die metroraad se departement van energie sowel as die bestuurder van die Nigel-kliëntedienssentrum, Ivy Nkosi, om die probleem so vinnig moontlik op te los.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die krag het Sondag omstreeks 16:30 afgegaan nadat die kragmas omgeval en die kragtoevoer na die dorp afgesny is. Kriminele het glo boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – gesteel. Die gewig van die kabels en spanning het veroorsaak dat die mas eindelik omgeval het.

Volgens Nkosi werk die departement sedert Sondag onverpoos aan ʼn tydelike oplossing om die krag te herstel deur een van die twee stroombane te elektrifiseer wat moontlik die lading ten volle sal kan hanteer. Die proses kan egter sewe dae duur weens die voorgeskrewe munisipale regulasies vir verkrygingsprosesse.

Die langtermynoplossing is om gedurende die volgende drie tot ses maande die beskadigde kraglyn te herbou wat die volle gebeurlikheidsrisiko aan ʼn bykomende stroombaan sal bied.

Die VF Plus meen die kragprobleem in Nigel kan as ’n noodgeval beskou word en het nou die LUR versoek om in te gryp om herstelwerk te bespoedig. Glover wys daarop dat regulasie 36 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet voorsiening maak vir munisipaliteite om vrystelling van die amptelike verkrygingsprosesse in uitsonderlike gevalle te verkry.

Glover sê voorts die peuter met die kragmas is ’n uiters kommerwekkende verskynsel en maatreëls moet ingestel word om te voorkom dat dié soort diefstal ’n tendens raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

Die munisipaliteit moet maar hulle 7 dag proses laat vaar en net die krag aan die gang kry. Dis hulle skuld in elkgeval wat hier aan die gang is en geen instandhouding en alternatiewe lyne nie

Philip ·

Die betrokke oorhoofse kraglyne bestaan al donkiejare sonder enige probleme deur storms en uiterste omstandighede maar die stutte en boute en moere is verwyder.Met die verswakte struktuur sal die mas later self in mekaar tuimel. Die skroothandelaars en die saboteurs is die enigste wenners in die proses doen maar n inspeksie op die res van die maste ook.

B-Man ·

Ja, dit gebeur dwarsoor die land. Die stropers haal die staal af vir skrootmetaal, maar net hier onderlangs waar hulle kan bykom. Hulle sal die res ook verwyder noudat hy op die grond lê… seker net te veel aktiwiteit (oë) op die oomblik. #Onssalself moet dalk daaraan dink om sommer al die boute te gaan vassweis in die omgewing – slegs tydelike oplossing.

Anel ·

As dit in enige ander land was, sou die krag al deur die nag herstel wees. Maar nou ja. Sê maar verder niks.

Deon ·

Verstaan julle wat se werk dit behels om so mas te vervang/installeer?

Objektief ·

In noodgevalle kan senior personeel toestemming gee dat die 7 dae tender prosedure nie gevolg hoef te word nie. Dit is net weer gewone onbevoegdheid

Anoniem ·

Ag genade tog. Dit is ‘n krisis maar hul verkies eerder om die hofsaal vol te sit en na nonsens te luister as om daadwerklik ‘n poging aan te wend om krisusse op te los.

Herman ·

Sabotasie, terrorisme, barbaristiese optrede, kwaadwillige beskadiging van eiendom en en en en .
So sal dit aangaan met n “malfunctioning” regering en sy “non existing” departemente wat die goed moet stop sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.