LUR moet opdok ná kind met suur brand

Die hooggeregshof in Kimberley (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Deur Tania Broughton, Ground Up

Die LUR van onderwys in die Noord-Kaap moet skadevergoeding aan ʼn leerder betaal wat in 2015 met suur in ʼn skool se badkamer gebrand het.

Die leerder, wat toe 11 jaar oud was, het ernstige brandwonde opgedoen toe die suur in die badkamer gelos is en hy besluit het om daarmee te eksperimenteer. Die leerder se pa het later besluit om die LUR te dagvaar vir nalatigheid.

Regter Lawrence Lever het verlede week in die hooggeregshof in Kimberley beslis dat die destydse LUR aanspreeklik is vir die beserings wat die leerder opgedoen het.

Luidens die hofstukke het die betrokke leerder destyds na sy skool se badkamer toe gegaan en besef dat die toilet nie wil spoel nie. Hy het ʼn houer met vloeistof in die badkamer gewaar en aangeneem dit is water.

Die skoonmaker het getuig hy het die suur in die badkamer gelos toe hy die badkamer verlaat het om middagete te eet. Hy het die middel daar gelos omdat die drein wat hy besig was om skoon te maak, nog verstop was en hy ná middagete nog daaraan wou werk.

Die leerder het die vloeistof gebruik om die toilet mee te spoel, maar die inhoud van die toilet het begin borrel.

“Toe die leerder besef dis nie water waarmee hy die toilet probeer spoel nie, het hy daarmee begin eksperimenteer,” sê Lever.

“Die slagoffer en nog ʼn leerder het die suur in die urinaal afgegooi, maar die middel het gespat soos wat dit kontak met die urinaal gemaak het.”

Die kind het brandwonde aan sy kop, gesig en lyf opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Die LUR se regsverteenwoordiger het in die hof aangevoer dat die kind se beserings aan sy eie toedoen te wyte is en dat die LUR dus nie daarvoor verantwoordelik gehou kan word nie.

Lever het egter bevind dat die slagoffer voor die voorval nog nooit met dié soort suur te doen gehad het nie en dat hy dus nie op so ʼn jong ouderdom verantwoordbaar vir sy optrede gehou kan word nie.

Die LUR is die politieke hoof van die onderwysdepartement in die provinsie en daarom is hy verantwoordelik vir die nalatigheid van sy werknemers.

Volgens die bewyse wat voor die hof gelewer is, is daar vooraf opdrag gegee dat die betrokke middel in ʼn kantoor in die administratiewe deel van die skool toegesluit moet word. Die skoonmaker het dit egter nie gedoen nie.

Lever het die skoonmaker se weergawe van gebeure – dat hy toegang tot die betrokke badkamer waarin die suur was, versper het – verwerp.

“Uit die feite wat aan die hof voorgelê is, is dit duidelik dat die LUR ʼn wettige plig het om te verseker dat leerders nie in gevaar gestel word nie,” sê Lever.

“Dit is duidelik vanuit die nodige aanwysings vooraf om die suur toe te sluit dat die amptenare by die skool voorsien het dat dit ernstige beserings kan veroorsaak. Gebaseer hierop kan enigiemand die gevaar insien om so ʼn produk te los waar minderjariges toegang daartoe het.”

Die LUR is opdrag gegee om skadevergoeding te betaal. Die bedrag sal later óf deur onderhandelinge óf in nog ʼn verhoor bepaal word. Die LUR moet ook die slagoffer se ouers se regskoste dek.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jr ·

Nee mm moet eerder lees “Taxpayer moet opdok vir LUR se fout.” Govt het nie geld nie, dis ONS S’N

SjN ·

Die taxpayer gaan weereens hoes vir nalatigheid en die skoonmaker kom skotvry daarvan af!

Ronel ·

Ons raak nou net soos die Amerikaners, weet die koffie is warm en sal brand en sodra hul gebrand word deur die koffie hardloop hul hof toe

Roek ·

NEE , DIE BELASTING BETALER DOK OP VIR DIE GROWWE NALATIGHEID!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.