LUR sterf dag voor verjaardag

Mandla Makupula. Foto: ANA.

Mandla Makupula, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, is Maandag dood, ʼn dag voordat hy sy 58ste verjaardag sou vier.

Premier Noxolo Kiviet het Maandag bevestig Makupula is Maandag in die vroeë oggendure in ʼn hospitaal in die Oos-Kaap dood. Sy dood volg op ʼn lang siekbed.

“Hy het die mense van die Oos-Kaap gedien met integriteit en etiese leierskap,” het Kiviet se kantoor in ʼn verklaring gesê.

Kiviet het ook haar medelye met Makupula se familie en kollegas betuig.

Intussen het Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, ook haar medelye met die Makupula-familie betuig.

“In die tyd wat ek hom geken het, was hy altyd vrolik selfs ten spyte van probleme met sy gesondheid. Ek wil graag my opregte medelye aan sy gesin, vriende, kollegas en die ANC betuig.”

Edmund van Vuuren, die DA se skaduminister van onderwys, het ook gesê hy betuig namens die DA sy medelye.

“Hy was ʼn man wat passievol was oor die onderwys en ons het gereeld gekonsulteer en maniere probeer vind hoe ons die talle sistemiese kwessies en uitdagings wat sy departement in die gesig gestaar het kan uitstryk,” het Van Vuuren in ʼn verklaring gesê.

Van Vuuren het gesê Makupula was bereid om te luister en het die belange van die onderwys eerste gestel. “Hy het sy bes probeer om ʼn verskil te maak, maar is by tye in die steek gelaat deur sommige van sy beamptes. Hy het sy stryd dapper geveg, tot die einde. Die provinsie is armer ná sy afsterwe,” het Van Vuuren gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann cb ·

En hier kom waarskynlik nóg ‘n peperduur begrafnis waarvoor die belastingbetaler moet opdok!

Conrad ·

Hy is iemand wat sy beste gegee het om ‘n verskil te maak.

Maar selfbehepte arrogante kommentaar verwys na begrafniskostes. Julle verstand het julle verlaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.