LUR stry voort om piepklein skool te sluit

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys Foto: Facebook

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beslis ʼn hoërskool met net 91 leerders en drie onderwysers moet oopbly, ondanks die provinsiale onderwysdepartement en LUR se jare lange pogings om dit te sluit.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê sy wil ʼn regsmening inwin oor Woensdag se uitspraak in die guns van die voormalige beheerliggaam van die Afrikaansmedium- Hoërskool Uitzig op die Kaapse Vlakte.

“Terwyl ek regsadvies inwin … het sommige polities geaffilieerde media die hofbeslissing reeds as ʼn oorwinning vir die leerders bestempel,” sê Schäfer. “Hulle misgis hulle.”

Hy gebruik die ouers en kinders van die skool as pionne.

Sy beskryf dit as net ʼn oorwinning vir Tony Ehrenreich, voormalige Cosatu-sekretaris in die Wes-Kaap. “Hy gebruik die ouers en kinders van die skool as pionne in sy poging om relevant te bly.”

Die hooggeregshof het vroeër beslis haar besluit om die skool in 2017 te sluit, was geldig en in die beste belang van die leerders. “Trouens, daardie selfde hof het die aansoek om te appelleer van die hand gewys omdat daar geen vooruitsig was dat enige hof ʼn ander uitspraak sou lewer [as dat die skool moet sluit] nie.”

Tony Ehrenreich, gewese Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, is vasbeslote om vir die skool se voortbestaan te baklei. Foto: Facebook

Schäfer meen dit het Ehrenreich en die aansoekers daartoe gedryf om hulle tot die appèlhof te wend om toestemming om te appelleer. Dié aansoek is nog hangende, maar Schäfer sê sy is van volste voorneme om dié appèl teen te staan. Die huidige bevel dat die skool oopbly, is net van krag tot die appèlhof uitspraak lewer.

Die skool se slaagsyfer in 2018 was net 15,4%.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het in 2017 besluit om die Hoërskool Uitzig, wat in ʼn brandarm, bendegeteisterde buurt geleë is, te sluit weens die dalende leerdertal, die “algehele toestand van verval” waarin die hoofgebou verkeer, asook voortdurende vandalisme en diefstal by die skool. “Boonop is die leerders se prestasies uiters swak; die skool se slaagsyfer in 2018 was net 15,4%,” sê Schäfer.

Vanjaar lyk die situasie ewe beroerd, want met net 91 leerders kom die skool vir net drie onderwysers in aanmerking. Dit moet nou heropen vir die 2019-skooljaar met drie onderwysers wat 91 leerders in vyf grade in agt verskillende vakke moet onderrig: Afrikaans, Engels, besigheidstudies, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, wiskundige geletterdheid en godsdiensstudies.

Schäfer sê sy is al gevra hoekom die departement nie bereid is om die skool op te knap en te herstel nie.

“Weens die klein getal leerders, die skraal kans dat dit sal toeneem, die ernstige toestand van verval, die feit dat die wagte wat ons aangestel het te bang is om die skool te bewaak, dat die onderwysers bang is en dat daar twee hoërskole binne ʼn kilometer van dié skool is, sal dit irrasioneel en onverantwoordelik wees om … geld te bestee om ʼn nuwe skool te bou wat tot R60 miljoen sal kos.”

Sy sê die departement se voorkeurskool om Uitzig se leerders in te neem is die Hoërskool Ravensmead, ook ʼn Afrikaansmediumskool, wat minder as 1 km van Uitzig af geleë is. Dié skool het meer as 1 000 leerders.

Ravensmead se slaagsyfer was verlede jaar 94%.

Omdat die gemeenskap van Uitsig onder bendegeweld deurloop, woon meer leerders van dié buurt die Hoërskool Ravensmead by as hul eie hoërskool, sê Schäfer.

“Ravensmead se slaagsyfer was verlede jaar 94%,” sê Schäfer. “Onderwysers en leerders van die Hoërskool Ravensmead leer in ʼn veiliger skoolomgewing met beter infrastruktuur en buitemuurse aktiwiteite en geriewe. Dit bly ʼn baken van hoop en is letterlik ʼn hanetree van Uitzig af.”

Sy sê sy bly by haar standpunt dat dit in die leerders van Uitzig se beste belang is om hul skool te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Chris ·

Maar is die skool dan nie eintlik onveilg as gevolg van vandalisme nie?

Chris ·

Ek het dit vir Ehrenreich gevra, maar, of hy hoor my nie, of hy voel ‘n veer.

Johann cb ·

Dit lyk meer of dit hier by albei persone om persoonlike prestasie gaan…!

Alex ·

Johann, jy het nie ver genoeg gelees nie. Dit is baie duidelik hoekom die skool moet sluit.

Hanlie Geyser ·

Ek verstaan nie. Die slaagsyfer is swak want daar is nie genoeg onderwysers nie? Ja skool in gevaar gebied (bende), maar daar is reeds ‘n tekort aan skole vir al die kinders in die land. Waarheen met daaardie kinders?

Paul ·

Hanlie, as jy gelees het sou jy sien dat daar ‘n baie goeie alternatief is ‘n skamele een kilometer daarvandaan. Lees die berig aandagtig en miskien verstaan jy beter.

Se maar net ·

Chris Ehrenreich is net bekommerd oor sy aansien in die Kaap oor nuks anders en hoe kan jy nou sy bubble wil bars. Aiai

Christo ·

Die feit dat die hoeveelheid onderwysers per skool bepaal word deur die aantal skoliere teenwoordig, en nie deur die onderwyser se spesialiteit nie, is die probleem van hedendaagse prestasies

Cherokee ·

Het die berig begin lees met ‘n frons en totaal van opinie verander namate ek verder gelees het. Hierdie is niè ‘n aanslag teen Afrikaans nie maar met slegs die inhoud van hierdie berig as basis maak die LUR se opinie sin.

Alida ·

Cherokee help my met mense wat net raaklees wat hulle wil en dan kan hulle nie spel nie. Sjoe dis erg. Mens weet nie wat hulle eintlik wil se nie.

Cherokee ·

Hallo Alida.. somtyds glimlag ek net vir hulle, want wat ek graag wìl sê sal nie die bestemming haal nie. Lees die kommentaar in die berig van die vrou wat sowat R4m gedêps het, waar ‘n kommentator die redaksie beskuldig van slegs blanke misdaad publiseer. Hy het nie kans gesien om die web-redakteur te antwoord op wat hy gesê het nie.

Hanna Hoekom ·

Daar is baie “learners” uit die Oos-Kaap wat plek in skole benodig. Hulle kan dan mos maar hierdie een gratis en mahala kry… Dit behoort die druk op veral Afrikaanse skole te verlig! Maak daardie skool Engels.

Eddy ·

Dag Hanna.Die probleem is nie juis die skool we beskikbaarheid self nie.Die probleem is die buurt,omgewing waarin die skool is.Dis n bende,gangster,dwelm hel gat.Dit maak onderwys baie moeilik daar.n Skool kan nooit uit sy omliggende omstandighede gehaal word nie.Die elemente is steeds daar.So sloop daai skoolgebou en bou HOP huise daar.Uitsig self het op n dag die hoogste konsentrasie rokers gehad en die asma/tb lyers ook hoog.Toni Ehrenreich sal weet,hy kom van Uitsig/Ravensmead.Ek sien regtig geen hoop vir n skool daar nie.Vandalisme, skoolkinders wat beroof word is alles en nog wat wat daar gebeur.

Eddy ·

Daai skool moet toe ,want geen werklike onderrig kan in sulke omstandighede plaasvind nie.Dieselfde het gebeur met Beauvollon Sekondêr in Valhalla Park: Daar het later net n leë dop oorgebly,geen mure,die skool was stuk stuk weggedra deur naby geleë plakkers.

Elsa ·

Ek was ook skepties, maar nadat ek verder gelees het, ondersteun ek ook die mening dat hierdie skool gesluit moet word. Hoekom dan nog geld mors om so ‘n vervalle skool te probeer red, as daar reeds 2 skole binne ‘n kilometer van hierdie skool af is? As die leerders nog gewys het dat hulle wou leer en regtig ernstig is oor skoolgaan, sou hul slaagsyfer nie net 15.4% gewees het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.