LUR van Mpumalanga afgedank ná moordklagte

Mandla Msibi (Foto: Facebook)

Mandla Msibi, LUR vir landbou, landelike ontwikkeling, grondsake en omgewingsake in Mpumalanga, is van sy amp onthef kort nadat hy Dinsdag in die hof verskyn het op aanklagte van moord en poging tot moord.

Refilwe Mtsweni-Tsipane, premier van Mpumalanga, het Dinsdagaand tydens ’n mediakonferensie gesê sy het besluit om Msibi van sy amp te onthef in die lig van die erns van die aanklagte teen hom.

Die premier het voorts gesê die ANC het ’n bepaalde morele standaard gestel waaraan sy openbare verteenwoordigers moet voldoen.

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, sal voortaan in Msibi se pos waarneem. Msibi bly egter lid van die provinsiale wetgewer.

Maroela Media het vroeër berig Msibi is Maandagoggend in hegtenis geneem nadat hy hom, vergesel van sy prokureur, aan die polisie op Mbombela oorgegee het.

Die saak hou verband met die skietdood van twee mense en die wond van ’n derde persoon in Augustus vanjaar. Die drie is in Mbombela geskiet.

Die 45-jarige Msibi se inhegtenisneming is die derde in verband met die ondersoek.

Die ANC in Mpumalanga het intussen sy teleurstelling en skok oor die bewerings teen Msibi uitgespreek.

“Die ANC neem hierdie aantygings teen Msibi uiters ernstig op aangesien dit ons Grondwet wat die lewensreg van elke burger beskerm, oortree,” sê Lindiwe Ntshalintshali, waarnemende provinsiale sekretaris van die ANC.

Msibi verskyn weer Woensdag in die Mbombela-landdroshof waar sy aansoek om borgtog hervat sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Deon ·

Dank hier af maar hou steeds daar aan, wat n simpel klugspul

Perdeby ·

Alles so voor die verkiesing, na die verkiesing sal dit seker weer wees, jy is eers skuldig wanneer jy skuldig bevind word, en sal dan net na ‘n ander afdeling gaan.

Anel ·

Hou kan hy nog lid van die wedgewer bly as hy in die tronk is vir moord? Dit beteken hy kry nog steeds salaris!!! Hoe dom dink hulle is ons? En hoekom word sy borg verhoor so gou gehou? Die boere wat uit selfverdeding geskiet het se borg kom eers volgende week voor. Hoe regverdig is dit?

koos10 ·

Hier lyk my is een ou wat opstaan vir wat reg is. Ek hoop die premier is werklik so en nie besig met verkiesings foefies nie.

Kobus ·

ANC het morele standaarde! Verstik ek nou aan my pruimtabak

Frikkels ·

Hoe behou ñ moordenaar sy lidmaatskap by die provinsiale wetgewer? ! Wat ñ sirkus van ñ regering. Die anc het bepaalde morele standaarde vir openbare verteenwoordigers daar gestel. Watter morele standaarde bestaan in die anc? Jy moet 27 jaar in die tronk deurbring vir terrorisme en hoogverraad, dan kom jy in aanmerking vir presidentskap. Ek dink hierdie ou is nou besig met opleiding.

Blomme ·

Ag weer dieselfde ou storie! ANC maak weer storms. Gaan hul ooit weer die nuus haal vir positiewe en goeie dade en besluite? Ons land is maar eenmaal in ń gemors gedompel!

Di ·

Ek het lankal handdoek ingegooi met hierdie regering en sy korrupte spul! Wonder net hoe slaap hierdie skelms in die nag

Nie Verbaas ·

Maar wat van die “arme man” se menseregte? Kriminele het mos meer regte as wetsgehoorsame burgers. Sies vir julle ANC. Weereens die kleiner vissie ANC. Wat van die boosdoeners in die regering?

Bertie ·

Hy gaan weer later beloon word met ‘n bevorderingspos op ‘n ander plek.

Heinrich ·

“Die premier het voorts gesê die ANC het ’n bepaalde morele standaard gestel “, maar natuurlik! “ANC” en “morele” pas maar net nie in dieselfde sin nie!

marius ·

Vanaand braai hulle weer saam . Almal van hulle met hul blink gevrete .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.