LUR van onderwys sê oor skool se haarstylbeleid

Windsor House Academy (Foto: ANA)

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Dinsdag leerders van ʼn privaat skool in Kempton Park toegespreek oor die skool se haarstylbeleid.

Lesufi het Windsor House Academy drie maande gegun om nuwe beleide op te stel wat gelykheid sal bevorder wat betref die omstredenheid oor leerders se haarstyle.

“Geen leerder sal geskors word oor kwessies met ʼn haarstyl nie. Niemand sal geviktimiseer word nie,” het hy aan die skoliere gesê.

Elf swart leerders is Maandag by die skool “weggejaag” omdat hulle hare nie netjies was nie.

“Nomineer vier meisies wat met die bestuur sal vergader en ek sal oor drie maande terugkom om seker te maak dat nuwe beleide geïmplementeer is wat almal sal respekteer.”

Windsor House Academy moet hul huidige haarstylbeleid opskort en die skool moet ʼn nuwe beleid saamstel deur insette deur die meisies en die skool se bestuur om seker te maak dat die beleid vir alle leerders gelyk sal wees.

Siyabonga Ngwenya, ʼn tannie van een van die meisies wat die skool moes verlaat, het gesê dit het al vantevore ook gebeur en dit is nie die eerste keer dat die meisie haar hare moes verander nie.

Sy het gesê die skoolhoof, Mariette van Heerden, het aan die meisies gesê hulle moet nie dink hulle daar sal ook oor hulle gepraat word soos die geval met Pretoria Girls High was nie, want hierdie is hulle skool.

Pretoria Girls High School was verlede jaar in die nuus toe swart leerders aangesê is dat hulle nie afro-haarstyle mag hê nie.

“Daar is vir hulle gesê dat indien hulle hare nie vandag behoorlik is nie, sal hulle nie in die skool toegelaat word nie, maar ek het my susterskind gebring,” het Ngwenya gesê. Sy het bygevoeg daar is nie bepaalde reëls oor haarstyle wat by die skool toegelaat word nie en toe sy die gedragskode versoek het, het die skool gesê sy kan dit nie kry nie, omdat sy nie die biologiese ouer van die kind is nie.

Nadat hy ʼn privaat gesprek met Van Heerden gehad het, wou Lesufi by die leerlinge weet wat gebeur het, om ʼn begrip te kry van wat gebeur het.

“Die gedragskode verander deurgaans. Hoe moet ons ons hare hanteer?” het een van die swart leerders gesê wat huis toe gestuur is. “ʼn Meisie het ʼn afro gehad en hulle het gesê dit is nie netjies nie.”

“Wanneer die situasie buite beheer raak, reageer die bestuur hoe hulle in daardie oomblik voel en dit is onregverdig. Ek is in matriek en ek het ʼn hele dag gemis. Ek is aangesê om die vlegsels uit te haal en die volgende dag het hulle gesê dit is ʼn behoorlike haarstyl,” het nog ʼn leerder gesê.

“Dissipline is orde, of ons dit waardeer of teenstaan,” het Van Heerden gesê.

“Ons sien al die skole het hierdie kwessie, maar ek dink nie dis buite beheer nie,” het Lesufi gesê. “Die enigste probleem is in privaat onderwys en daarom het ons hierheen gehaas. Mens kan hoor die meisies sukkel, hulle het hulp nodig en ek sal my span vra om hulle by te staan.”

Hy het ook gesê daar is ʼn saak by Klipspruit West High School, waar die skool ontwrig is toe ʼn swart skoolhoof aangestel is. “Moenie ras gebruik om sekere kwessies te hanteer nie. Ek gaan môre soontoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tammy ·

N skool is nie n modehuis nie. Netheid skep dissipline. As jy in n spesifieke skool wil wees SAL jy by die reels hou wat vir die betrokke skool van toepassing is. Reels is daar vir n rede. Gaan kyk maar na skole waar daar feitlik geen dissipline is nie, daar is ook nie presteerders nie. Die meerderheid van kinders wat nie by die reels wil inval nie en rebelleer word moeilikheidmakers en bots vorentoe met die gereg!

Johan ·

Dis nie die belangrikste om na op te let nie! LET OP… Dis ‘n PRIVAAT Skool. Dus is privaat skole nie gevrywaar van direkte staatsinmenging nie…

Katrein ·

Ek stem nie saam met die erge haar reëls nie. Studente op universiteit dra nie univorm nie, dra hul hare lank, kort los en vas, gekrul, skoon (en sommige hou van deurmekaar hare) en dit het geen invloed op hul studies nie. As jy wil studeer, gaan haarstylreëls beslis nie ‘n verskil maak nie. SA skole kan regtig die ou militere beleid maar los…

CS ·

Sowaar, gister gebeur en vandag is hy by die skool! Ongelooflik

Pie van die Sky ·

Johann, weereens is jy in die kol! Dit gaan nie hier oor die haarstyle per se nie, dit gaan om die MAG wat vertoon word deur Lesufi om direk by Van Heerden se privaatskool te gaan inmeng. SA is midde in ‘n Neo-liberale rewolusie verwikkel waar als van ou stelsels vernietig word. Hierdie is die voorlaaste stadium voor die Nuwe “Orde” van Marxisme.

Marisa ·

Wit harereëls wat op swart kinders afgedwing word. Wat vir witmense ‘snaaks’ lyk, is heeltemal netjies en aanvaarbaar vir swartmense. Los die kinders uit! Ek is seker daarvan hulle hare is netjies vir hulle kultuur. Almal is trots op hulself en wil hul beste lyk. As hul hare vuil en onversorg is, is dit ‘n ander ding.

Stadskind ·

Jammer maar ek stem nie saam nie. Swart kinders het nie dieselfde hare as wit kinders nie. Niemand dink aan daardie kinders se selfbeeld nie. Ek kannie sien hoe hare jou skool opvoeding beinvloed nie. Ek was gereeld in die moeilikheid op skool oor my hare omdat ek wou eksperimenteer. Ek is vandag toegelaat as ‘n prokureur. Kan nie dink hoe dit my prestasie beinvloed het nie.

Linette ·

@Stadskind – ek kan jou één ding sê: dit is die dissipline en reëls op skool wat jou die self-dissipline, toegewydheid en dryf gegee het om te LL.B en toelating tot die Balie te kry.

Callie ·

Almal mis die punt. As die skool sekere reels het moet jy mos daarby aanpas as jy soontoe gaan. As die reels jou nie pas nie gaan soek n plek waar die reels jou pas. Dit is hoekom daar geen dissipline meer is nie. Almal wil die reels aanpas by hul leefstyl. Dit is soos die Bybel. Die mens probeer die Bybel verander om hul sondes te regverdig. Soos die ou vertaling dit stel: Die pad van die regse is die pad van die wyse. ens.

De Villiers ·

Callie, dis presies my uitgangspunt ook. Kyk bv. na die taal-en godsdienskwessies by skole en universiteite. Hoekom doen iemand aansoek by so ‘n instelling as hy nie eens die onderrigtaal magtig is of hul godsdiensbeleid aanhang nie. Dan moet alles daar verander om hóm te akkommodeer, en word die instelling as rassisties, ongrondwetlik ens. gebrandmerk. Belaglik! Hoe kan ‘n instelling sy eie en unieke identiteit van baie jare behou? Identiteit skep karakter en trots, iets wat vir die huidige regering nie belangrik is nie.

Theresa ·

Gooi die reëls vir alle skoliere se hare oop. Sien dan hoe die slierte, pruike, gekleurde, lang lokke, vlegsels, bollas, ponies, gebleiktes ensovoorts, ensovoorts met ‘n skooldrag lyk. Daarna kan mascara en lipstif ook maar toegelaat word en wat van juwele. Groot swaaiende hoepels en vere van alle soorte, Ses studs in elke oor. Lekker.
Of: die reëls is bloot dat jy jou hare (nie iets wat bo-op joune kom nie en ook nie iets wat aangeplak word nie) vasmaak as dit jou kraag raak of in jou oë hang. Geen hare terwyl jy op skool is, word gekleur nie. Dit moet skoon wees. Dit pas net beter by skoon gesigmeisies wat skool bywoon? Kan nie regtig die bohaai verstaan nie – seker net dom. Dis deel van die lekker om te weet dat mens na die skoollewe die skooldrag wegpak en dra wat jy wil. Jou hare dan mee doen wat vir jou lekker en mooi is om jou individualiteit te wys. Tyd en plek vir als. Maar, daar is erger goed as hierdie om oor te kibbel. Seker maar persoonlike smaak.

Jou beurt is jou beurt ! ·

Konsentreer liewers op die skoolwerk dan sal dinge beter gaan ! Onderwysers moet eerder aandag gee aan die dinge wat saakmaak. Los die hare kwessie uit,
As die leerders netjies lyk doen dit geen skade aan niemand nie, maar as die skoolwerk agteruitgaan weens swak onderrig, doen dit almal skade aan,

Pietie ·

Waar is die Beheerliggaam van die skool en wat is hul rol? Daar mag ‘n problem wees, maar dis nie vir Lesufi om te kom punte score nie of voor te skryf wat gedoen moet word nie. Hy het duidelik ‘n aksie teen privaatskole en is dus nie onpartydig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.