LUR veroordeel moord op Taxify-bestuurder

Taxify

Ismail Vadi, LUR vir vervoer in Gauteng, het Vrydag die moord op ʼn Taxify-bestuurder in Snake Park in Soweto veroordeel.

Moipolai Sekati (44) is Woensdagaand doodgeskiet. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Vadi het sy medelye betoon met Sekati se familie. “Enige rasionele persoon sal dié sinnelose en gewelddadige moord veroordeel. Alhoewel die motief van die moord nog nie bekend is nie, is ek baie hartseer oor die sterfte van ʼn onskuldige persoon.”

Hy het gesê dit is boonop hartseer dat dié voorval plaasvind so kort nadat die Nasionale Vergadering die Wysigingswetsontwerp oor Nasionale Padvervoer goedgekeur het, wat elektroniese taxidienste aan die publiek sal reguleer. Vadi het verduidelik die wetsontwerp bied lisensiëring aan e-taxidienste as openbare vervoer, ná gewelddadige botsings tussen metertaxibestuurders wat gekant is teen e-taxidienste soos Uber en Taxify. Bestuurders is aangerand en vermoor en verskeie Taxify- en Uber-voertuie is in onlangse voorvalle beskadig.

Sekati se voertuig is Vrydag in ʼn oop veld gevind waar dit uitgebrand het. Sy familie het Donderdag na hom gesoek in hospitale, by polisiestasies en lykshuise. Sy liggaam is uiteindelik in Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal se lykshuis gevind. Hy is aangerand en ʼn paar keer geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hettie ·

Ja net so sinneloos en geweldadige as die moorde op onskuldige boere .ons wag nog vir iemand van die regering om daardie moorde ook te veroordeel !

Daan ·

Mnr LUR ek praat nie die of ‘n moord goed nie, maar jy maak my dink dat die taxify ding vermoedelik net jou beursie raak, die dat DIE moord nou eweskierlik uitstaan, jy klink vreeslik geskok oor die moord, hier is vreeslik baie moorde in die land en ek hoor jou nou eers, lyk my jy weet nie van die moorde, kry jou self uit jou stoel en gaan kyk hoe lyk en hoe baie is die plaas moorde. Miskien kan jy so ietsie hieroor ook se.

jaco ·

Uber en taxify se oorspronklike konsep was dat die drywer sy eie motor gebruik en dan by uber of taxify inskakel en so sy klandisie kry. Middelmanne soos ‘n kantoor wat besprekings kry en wat die motor in stand moet hou, word so uitgeskakel. Alles werk deur whatsapp, Die tariewe is dus goedkoper as by gewone taxi- en shuttle-besighede, maar die drywer maak steeds goed geld.
Die nonsens het begin toe taxi- en shuttle-besighede ook by uber en taxify begin inskakel het. Nou moet hulle eienaars en kantoorpersoneel ook betaal word en word maatskappymotors gebruik. Dis nie meer drywers se eie motors nie. MAAR die tariewe bly dieselfde, want dit word deur Uber en Taxify bepaal. Gevolglik kry die drywers dan minder geld en dan begin hulle baie lang ure te werk om soveel as moontlik besigheid te kry. Dan begin hulle ander taxi besighede se klante af te rokkel en hulle werk tot 48 uur AANEEN om genoeg te maak net om aan die lewe te bly. Dis eintlik maar ‘n sukkelbestaan.
Uber en taxify behoort geregtelik ondersoek te word omdat hulle sulke goed toelaat.
Ek suig nie dié goed uit my duim nie. Ek was in die shuttle bedryf en ek ken mense wat steeds daar is. Ek weet hoe dit gaan daar.

Cherokee ·

Dankie jaco, vir die uitklaar van vrae waaroor miskien nie net ek nie maar meer mense gewonder het. Jy het dit duidelik gemaak.

Veritas ·

Almal weet dat die taxi-industrie deur ‘n soort mafia beheer word. Die regering is egter te slapsielig om op te tree en die bedryf skoon te maak. Net die manier waarop taxidrywers die verkeersreëls verontagsaam, wys dat hulle geen respek het vir die wet nie. Selfs die polisie en munisipale beamptes skyn huiwerig te wees om teen hulle op te tree.

Cherokee ·

Veritas, ek het rede om te glo dat metro-polisie aandele besit in stedelike taxis. Wanneer ek sê ‘rede’ praat ek met erns want ek sien hoe taxis oorgesien word vir oortredings waarvoor privaat motoriste beboet word. Ek sien hoe die kontrakteur wat op die rooilyn voor my kantoor parkeer, met R500 beboet word (ek het aangebied om dit te betaal maar hy het my aanbod geweier!) en taxis selfs gewas mag word daar. Ek het ‘n CCTV (ek is meer Engels as Afrikaanssprekend!- wat is dit in Afrikaans! ) stel met 16 kameras en ek gaan ‘n kamera opstel op hùlle, metro, te kontroleer.

GM ·

Cherokee, jou taalgebruik is uitstekend! Ek verneem van iemand in dié industrie dat hul CCTV, ‘kringtelevisie’ noem in Afrikaans, maar hul maak ook maar gebruik van ‘CCTV’ (in Afrikaans uitgespreek as die kliënte Afrikaanssprekend is).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.