Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die rooftog by die Retreat-gemeenskapsgesondheidsentrum in Kaapstad veroordeel en gesê hy is geskok dat misdadigers te midde van die Covid-19-pandemie die land se gesondheidstelsel teiken.
Volgens berigte is dit die tweede gewapende roof binne ʼn maand by dié sentrum.
Drie gewapende rowers het Sondag hul vuurwapens op die veiligheidswag by die sentrum se ingang gerig en hom van sy persoonlike items beroof. Daar word verder berig dat ʼn paartjie wat vir ʼn pasiënt gewag het ook oorval is.
“Dit is afskuwelik dat misdadigers dié sentrum teiken terwyl ons ʼn Covid-19-pandemie beveg. Ons gesondheidswerkers se enigste fokus moet daarop gerig wees om mense se lewens te red. Hulle moet nie ook terselfdertyd oor hul skouers hoef te loer nie,” sê Fritz.
“Ek veroordeel enige aanvalle op ons gesondheidstelsel. As departement doen ons alles in ons vermoë om hierdie instellings te beveilig.”
Die departement van gemeenskapsveiligheid het veiligheidsmaatreëls by die sentrum in Retreat verskerp wat insluit:
- die inwerkingstelling van ʼn veiligheidsondersteuningspan om die teenwoordigheid van fisieke veiligheid te versterk;
- die reël van risikobeoordeling op die terrein;
- die opstel van ʼn ooreenkoms met polisie en wetstoepassers om gereelde patrollies in die omgewing te doen; en
- gesprekke met die veiligheidspersoneel van die sentrum.
Daar word verder aanbeveel dat ʼn nuwe veiligheidsplan vir die fasiliteit ontwikkel word.
Volgens Fritz is die polisie besig om die saak te ondersoek.
Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldiges kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Leë woorde. Wat gaan hy daaromtrent DOEN?
Dit is die ANC se gewone storie, maak meer wette of verskerp veiligheids maatreels maar niemand dink dit sal beter wees om net die bestaande wette en reels toe te pas nie. Die dinge gaan nooit ophou as daar nie gevolge is nie en die bestaande wette en reels is genoeg as dit toegepas word
Meneer Fritz,jy sien kriminele in Suid Afrika gee nie om waar en wat hulle roof nie.Die SAPS is al so slapgat dat tot polisiestasies beroof word.