LUR wil Tshwane-speaker dissiplinêr aankla

Die speaker van die Tshwane-metroraad, Katlego Mathebe. (Foto: Tshwane-metroraad)

Katlego Mathebe, speaker van die Tshwane-metroraad, se enigste sonde is dat sy bevoeg is.

Dít volgens die DA wat sê hy het volle vertroue in haar vermoë om die raad te lei.

Die DA sê die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile, maak weer reg om Mathebe uit die kussings te probeer lig nadat sy vorige pogings in die hek geduik het.

Maile het die afgelope week teruggekrabbel nadat hy Mathebe en die voormalige speaker van die Johannesburgse metroraad, Vasco da Gama, vroeër sonder betaling geskors het. Hy het die skorsing enkele dae later omgekeer, maar volgehou hy het niks verkeerd gedoen nie.

Volgens Maile is sy besluit nie ligtelik geneem nie en geld die meriete en korrektheid van die besluit steeds aangesien dit strook met die Grondwet en toepaslike munisipale wetgewing. Maar nadat regsadvies ingewin is, is besluit om die skorsings terug te trek.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng. (Foto: Twitter)

Nóú wil Maile tugmaatreëls inspan om Mathebe die trekpas te gee.

John Moodey, DA-leier in Gauteng, sê hulle het kennis geneem van ʼn brief wat Maile aan die hoofsweep in die Tshwane-metroraad, Christo van den Heever gestuur het, waarin hy hom beveel om met tugstappe teen Mathebe te begin.

Maile beskuldig Mathebe van growwe wangedrag, pligsversuim, en oortredings van die Grondwet en die gedragskode vir raadslede.

“Sy beskuldigings is ooglopend gefabriseer en hy het nog glad nie vorendag gekom met enige bewyse – of selfs net spesifieke voorbeelde – van haar beweerde wangedrag nie,” het Moodey gesê.

Hy sê Maile hou aan om die voorskrifte in die Grondwet te oortree wat munisipaliteite die reg gee om te regeer, terwyl die nasionale en provinsiale regering se magte beperk word om in te meng.

“Sy inmenging in die sake van die DA-geleide Tshwane-metroraad, terwyl hy mislukkende ANC-geleide munisipaliteite oor die hoof sien, kom neer op ongrondwetlike inmenging, boeliery en teistering deur die provinsiale ANC-regering.

“Maile is nie geskik vir sy pos nie en moet dadelik verwyder word,” het Moodey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.