LUR’e gewaarsku oor gebrekkige water, sanitasie by skole

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Menseregtekommissie (MRK) het ses provinsiale LUR’e vir onderwys op terme geplaas rakende die water- en sanitasie-tekorte by skole in hul provinsies. Van dié skole maak steeds gebruik van puttoilette en het nie toegang tot behoorlike water of sanitasie nie. Sou hulle nié binnekort aan die saak aandag gee nie, kan hulle deur litigasie in die gesig gestaar word.

Die MRK het die LUR’e in KwaZulu-Natal, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap aangesê om hul verpligtinge na te kom en nie die basiese menseregte van die leerders en onderwysers verder te skend nie.

Volgens ʼn verslag van die betrokke provinsiale onderwysdepartemente maak altesaam 983 skole in KwaZulu-Natal steeds gebruik van puttoilette, terwyl ʼn verdere nege skole sonder water is en 44 sonder enige vorm van sanitasie is.

In Noordwes het 19 skole slegs toegang tot puttoilette, terwyl 113 skole in Limpopo sonder enige water sit.

Altesaam 199 skole in Mpumalanga het nie toegang tot veilige, drinkbare water nie en 59 van dié skole gebruik steeds puttoilette.

ʼn Verdere vyf skole in die Vrystaat het nie enige vorm van sanitasie nie.

Luidens die verslag gaan skole in die Oos-Kaap die meeste gebuk onder dié tekorte. Altesaam 2 236 skole in hierdie provinsie maak steeds gebruik van puttoilette en tien skole het glad nie toegang tot water nie.

Die MRK vereis dat die betrokke provinsies gedetailleerde aksieplanne met streng tydraamwerke aan die kommissie voorlê om die ooglopende sanitasieprobleme hok te slaan.

Indien die LUR’e versuim om onder meer puttoilette te bedek en te beveilig – wat geweldige gesondheidsrisiko vir leerders en onderwysers inhou – sal die MRK die nodige stappe, wat litigasie insluit, teen hulle doen.

“Die MRK is daartoe verbind om met die departement van basiese onderwys sowel as provinsiale departemente saam te werk om te verseker dat die reg op basiese onderwys en toegang tot water en sanitasie onmiddellik verwesenlik word,” lui die MRK se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Verkiesingstyd spoed nader en die slapende regering ontwaak uit hul slaap. Sal daar maar steeds te midde van hierdie haglike omstandighede anc gestem word.

Heinrich ·

Dis mos belangriker om die straatname te verander as geld aanwend vir toilette.

mattk ·

Al te wonderlik. Dit is nou al 27 jaar wat miljoene rande se belastingbetalers se geld in die puttoilette afgegooi word deur bedrog, korrupsie en diefstal van die ANC se verkose kaders en hul hulle kaders. Dan praat ek nie eers van die miljoene rande se belasting wat uit daaglikse brandstof verkope gegenereer word nie. Waarop ek neerkom, daar is in die 27 jaar bitter min van die geld gebruik vir vooruitgang met die bou van skole, instandhouding van skole en ander staatsinstellings (kyk maar net hoe het die geboue agteruit gegaan), paaie ens. Die kaders se leefstyl bestaan uit weelde terwyl hul ondersteuners in hole bly en honger ly.

Mariana ·

Mens kan nie glo dat geld om allerhande goed gemors word, maar steeds moet kinders puttoilette gebruik en het ook geen toegang tot water nie. Dit is ‘n skreiende skande. Kom Lesufi jy doen nie jou werk nie.

JM ·

Na 27 jaar word daar uiteindelik wakker geskrik! Geld vir noodsaaklike dienste gaan óf sakke toe, of vir naamsveranderings. Vir eerlike verantwoordbaarheid en prioritisering is daar geen begrip nie. Gaan maar op die Afrika-manier voort!

Chris dupreez ·

Daar is nie wakker geskrik nie , dit is maar net n verkiessings praatjie, net om weer die stemme te kry. Snaaks hulle het nog nie weer begin met die storie dat e tol geskraap gaan word nie.

Charmain ·

Die Romeine het van die vroegste eeue af al waterweë en sanitasie gehad. In hierdie eeu sit Afrika nog sonder lopende water en puttoilette.

Pampoen ·

Die oplossing is eenvoudig: Bou spoel toilette en vernoem hulle na die LURe en kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.