Lus vir gholf? Gaan slaan gerus af

(Foto: pixabay)

GolfRSA het Vrydag bevestig dat amateurgholfspelers nou weer mag afslaan.

Die organisasie is nou al geruime tyd in gesprek met die regering om alle spelers – nie net beroepsportlui nie – weer op gholfbane toe te laat. Die samesprekings is goeie nuus vir gholfspelers én die bedryf.

“GholfRSA besef en erken dat veiligheid vir menselewens van ongelooflike belang is. Ons het begrip vir die regering se uitdagings om gepaste stappe in reaksie op die bedreiging wat die Covid-19-pandemie inhou te doen. Ons het dus voldoening aan regulasies en opdragte probeer verseker,” het die organisasie Vrydag gesê.

GolfRSA het ook die minister van sport, Nathi Mthethwa, vir die besluit bedank.

Voordat hulle heropen sal van gholfbane verwag word om aan streng gesondheidsmaatreëls van die departement van sport te voldoen.

GolfRSA sê hy het die afgelope paar weke reeds alle klubs van Covid-19-planne voorsien en voldoeningsbeamptes is aangestel. Klubs is ook toegerus met ʼn toonaangewende toepassing wat gaan help om alle gholfspelers en werkers vir Covid-19 na te gaan en te monitor.

Klubs moet ʼn dokument onderteken waarin hulle bevestig dat hulle aan maatreëls voldoen en moet dit aan GolfRSA terugbesorg voordat hulle mag heropen.

GolfRSA het die publiek en bedryf bedank vir hul steun om tot op dié punt te kom.

Die organisasie het onlangs ʼn amptelike teregwysing van die departement gekry nadat sekere gholflandgoedere en -instansies vroeër al hul geriewe oopgestel het. Hulle is gewaarsku dat hulle beboet of selfs tronkstraf opgelê kan word.

Die gholfbedryf is weens die afsonderingsregulasies nou al geruime tyd in die moeilikheid. Gholfklubs oor die wêreld heen word deur die lidmaatskapgelde van amateurspelers onderhou en net in Suid-Afrika word ongeveer 40 000 mense deur gholfklubs in diens geneem.

Grant Hepburn, GolfRSA se uitvoerende hoof, het vantevore gesê tot 50% van die bane in Suid-Afrika kan hul deure sluit indien daar nie daadwerklik opgetree word nie.

Mthethwa het Donderdag ook nuwe regulasies vir beroepsportlui in die Staatskoerant aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.