Soorte resepte:

Lus vir ʼn stukkie stokviswors, soja-eiers of seewiergarnale?

Die stokviswors wat Woolworths verkoop. (Foto: Johann Bierman/Twitter)

Suid-Afrikaners is tans verdeeld oor ʼn nuwe produk wat onlangs op Woolworths se winkelrakke verskyn het: sogenaamde ‘Hake wors’, oftewel stokviswors.

ʼn Sosialemediagebruiker, Johann Bierman, het vandeesweek ʼn foto van dié Woolworths-produk geplaas en die internet het sonder skroom daarop gereageer.

Hoewel sommige landsburgers gedink het dit klink na ʼn heerlike alternatief vir ʼn skaaptjoppie of ʼn sappige stukkie boerewors op die braaivleisvuur, het ander gedink dit klink effe verdag.

“Ek is mal oor vis, maar dít is ʼn stappie te ver. Weet enigiemand hoe dit smaak? #viswors klink net verkeerd,” het Annalise Kempen op Twitter geskryf.

“Ek moet dít beslis probeer,” het ene I’m Words op Twitter gesê.

Woolworths het intussen uitgereik na Bierman nadat sy plasing soos ʼn veldbrand versprei het, en het aangebied om vir hom ʼn koopbewys te gee sodat hy dié produk kan uittoets.

Hi, Johann, ons het lekker gelag vir jou plasing oor die stokviswors. Ons sal graag vir jou ʼn koopbewys wil stuur sodat jy dit kan probeer, sou jy belangstel?” het Woolworths gesê.

Alternatiewe vir eiers en garnale

Argieffoto.

Intussen het AFP berig die Switserse voedselreus Nestlé het Donderdag aangekondig dat hy plantgebaseerde alternatiewe vir eiers en garnale gaan bied. Dié maatskappy brei tans sy spyskaart uit in die groeiende veganistiese mark.

Nestlé, die eienaar van alles van sjokolade tot koffie tot babakoshandelsmerke, herrangskik al verskeie jare lank sy aktiwiteite om meer op gesondheid en welstand te fokus. Nou staan die maatskappy se kop in die rigting van vegetariese en veganistiese produkte.

Die jongste aanbiedinge is die sogenaamde “vEGGie” en “Vrimp”-produkte. “vEGGie” is ʼn plaasvervanger vir eiers en is gemaak van sojaproteïen en omega-3-vetsure.

“Dié produk kan geroer word soos regte eiers, gebruik word in ʼn frittata en pannekoeke of selfs as ʼn bestanddeel wanneer koeke en koekies gebak word,” het die maatskappy gesê.

Argieffoto. (Foto: Pixabay.com)

Die “Vrimp” is gemaak van ʼn mengsel van seewier, ertjies en konjakwortel en het volgens Nestlé “die outentieke tekstuur en geur van sappige garnale”.

Die twee produkte sal aangebied word in ʼn “toets-en-leer”-bekendstelling by ʼn beperkte aantal winkels in Switserland en Duitsland.

Die mark vir alternatiewe vir vleis en suiwelprodukte beloop tot $14 miljard (sowat R210 miljard), volgens ʼn studie wat in Junie deur die Switserse bank Credit Suisse gedoen is.

Volgens die bank kan die mark teen 2050 tot ʼn stewige bedrag van $1,4 biljoen (sowat R20 biljoen, oftewel trillion) groei.

Meer as 600 maatskappye, van nuwe maatskappye tot die grootste voedselmaatskappye, ontwikkel tans soortgelyke alternatiewe kosprodukte, het Credit Suisse gesê.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Ek kan werklik nie dink dat vis wors kan lekker wees nie. Sal baie speserye ook moes insit sodat dit bietjie smaak het en hake maar oor die algemeen baie ‘plein’ smaak.

Samuel ·

Van wanneer af praat ons van ‘n biljoen in plaas van miljard? Dan huil ons ewe oor Afrikaans misken word.

Sou graag die stokviswors wil probeer.

Eclectus ·

Daar word in die artikel na “trillion” verwys, wat ‘n biljoen is, maar jy’s reg, ‘n “billion” is ‘n miljard en die gemiddelde Afrikaner weet dit nie.

Francois Le Cochon ·

Ek wou ook self probeer, maar was uitverkoop by al 3 Woolies naby my. In elk geval, alles by Woolies is lekker, en nie meer so duur soos in die verlede, behalwe hulle ingevoerde 1kg Noorwee Salmon in suurlemoen bottersous, duur maar hemels!

miavos ·

Ek sal die stokviswors met graagte probeer! Saam met lekker slaptjips en tamatiesous!

koos10 ·

Ek is bitter deurmekaar. Die plakkers op die pakkie viswors sê “new” en die ander “Tradisional”. As dit nuut is hoe kan dit tradisioneel wees?
Wel, ek sal dit probeer, aangesien ek glo dat jy nie iets kan afskiet voordat jy dit probeer het nie.

Swerwer ·

Nie ‘n manier nie. Dit kan maar gesond wees en jou 10 jaar langer laat leef maar nee dankie, sê die gaansie.

Eclectus ·

Hoekom probeer blaareters so hard om vleis na te boots, terwyl die ouens bo-aan die voedselketting nie vegetariese disse uit vleis probeer omtoor nie? Dan is daar ook hierdie obsessie by hulle om ons te oortuig terwyl ons in stilte ons biltong kou en hulle nie pla nie. Ek is dankbaar vir elke ou wat nie vleis eet nie, meer voorraad en beter pryse. Die kinders het die herbivoor lawwigheid vir drie maande probeer maar dit was onvolhoubaar duurder as om soos ‘n normale omnivoor te leef. Het onder andere met ‘n “Chicken flavoured vegetarian ham” daar opgedaag, toe wou ek weet hoekom is dit “Chicken flavoured” en hoekom is dit ‘n “ham”? Wag nou nog vir ‘n antwoord.

Jenny ·

Ek dink ek sal die wors probeer, dit klink lekker. Ek is mal oor vis en sal hierdie wors eet wanneer ons “vis en chips” eet!!!

JohanCzu ·

Die viswors klink na iets wat mens kan geniet, maar die sojagemors kan hulle druk waar die son nie skyn nie.

Anel ·

Nou hoekom wil mense alles wat lekker en gesond is vervang met iets wat nie so lekker en moontlik op die langeduur nie so gesond is nie? As dit so moes wees dan sou die Skepper nie vir ons dit gegee het wat ons nou eet en ken nie. Dan sou Hy van die begin af die ander goed gegee het. Los ons wat lief is vir ons vleis en so en eet julle maar die nagemaakte wat ook al. Maar lyk my alles gaan net oor geld en nou wil julle ons wys maak dis gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.