’n Gedeelte van die Pearls of Umhlanga-hotel in KwaZulu-Natal het omstreeks 03:00 Maandag aan die brand geslaan.
Leigh-Ann Hollington, woordvoerder vir die hotel, sê die brand was tot ’n balkon beperk en het geen inwoners beïnvloed nie.
“Die hotel is egter as ’n voorsorgmaatreël ontruim.”
Volgens Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, het beamptes van die eThekwini-nooddienste die brand geblus vóór dit die hoofgebou bereik het.
Hy sê die brand het vermoedelik by die pomp van die swem- en borrelbad op die boonste verdieping uitgebreek.
“’n Sekerheidsbeampte wat binne die gebou probeer het om die brand te blus, het ligte brandwonde opgedoen en rook ingeasem. Hy is op die toneel behandel en in ’n stabiele toestand na ’n hospitaal vervoer.
“Geen verdere beserings is aangemeld nie.”
Die eThekwini-nooddienste het nog nie op verdere navrae deur Maroela Media reageer nie.
Nog ‘n Brand….nog ‘n ondersoek….nog een sonder antwoorde…
Waar was die ” Luukse Hotel” se Veligheidmaatreels