Luukse lakens nou skoolklere vir armes

Argieffoto van Restore SA. (Foto: Restore SA/Facebook)

Spierwit linne wat eens oor ’n bed in ’n luukse Kaapse hotelkamer getrek is, is nou kraakvars wit skoolhemde wat oor die skouers van die Moederstad se armste kinders getrek word.

Byna 100 000 skoolkinders is al van ’n wit skoolhemp voorsien sedert Danolene Johannesen in 2015 begin het om luukse hotelle in Kaapstad se weggooilakens na haar klerewinkel Restore SA se naaldwerkwinkel te neem.

Hiér word weggooilakens as deel van die Sheets-to-shirtsinisiatief in wit skoolhemde omskep.

“Ons maak elke jaar minstens 10 000 hemde en dit is sowat 1 800 lakens wat ons opsny en hemde van maak,” vertel Johannesen.

“Ons wou kyk na ’n manier om ons kinders in die skool te hou, asook na hoe ons hulle vir skool kan aantrek en hoe ons net hul selfbeeld ’n hupstoot kan gee.”

Vyf skoolhemde kan van een geskenkte koningsgrootte-bedlaken gemaak word. Die Parker Cottage-boetiekhotel teen die hange van Seinheuwel in Tamboerskloof is een van die hotelle wat lakens aan die projek skenk.

Pamela Nayler, eienaar van Parker Cottage, vertel die hotel se lakens moet gereeld vervang word om aan gaste se hoë verwagtinge te voldoen.

Nayler het deur haar linneverskaffers van die Sheets-to-shirts-projek te hore gekom en “nou gee ons vir hulle die ou linne om skoolhemde van te maak”.

Byna 200 km daarvandaan gaan Lemiese Pieterse se dogter in Bonnievale skool. Sy is een van die begunstigdes van die projek en Pieterse is ewig dankbaar vir die herwinde skoolhemde wat nes ’n gekoopte skoolhemp lyk.

“Ek het hierheen gekom om ’n hemp vir my dogter te kom haal en ek is baie geseënd,” vertel sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Baie mooi gebaar maar die Regering moet die “Kinder toelaag” stop en liewer daardie geld gebruik en instansies finansier wat hierdie soort diens lewer. Die geld wat aan die ouers vir die kinders betaal word, word in elk geval 90% op drank vermors as om na die kinders om te sien. Daar is mos maar altyd “Iemand” wat sal inspring om die agtergeblewenes by te staan en te gee as wat hul iets van hul kant sal doen om die geld wat hul mahala van die staat ontvang vir hul kinders se welsyn te gebruik.

Peach ·

Swerwer, en daai 90% stelling van jou is op watter geloofwaardige navorsing gebaseer?

Swerwer ·

Het toevallig gewerk met dit. 90% van die ouers gebruik daardie geld vir hulself en drank. Die kinders ly daaronder.

Marcello ·

Ek dink ‘n mens moet versigtig wees, om alle ouers wat kindertoelae kry onder dieselfde kam te skeer, daar is wel Moeders wat die geld oordeeldundig gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.