Luukse nuwe huis vir Panayiotou

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Costa Panayiotou ondersteun sy seun Christopher in die hof. Foto: ANA

Terwyl die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou verlede week steeds in aanhouding in die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth was, het hy die eienaar van ʼn luukse nuwe huis geword.

Die “droomhuis” wat Panayiotou (28) vir hom en sy vrou, Jayde, gekoop het, is verlede week na sy naam oorgeplaas.

Riaan Meyer, die vorige eienaar van die huis, het aan Rapport gesê hy en sy vrou het die indruk gekry die Panayiotous wou die huis koop as gevolg van veiligheidsredes. Meyer het gesê Christopher het die huis by drie geleenthede besigtig – die eerste keer saam met sy ma, die tweede keer alleen en die derde keer saam met Jayde en haar ouers. Hulle was glo “ekstaties” oor die nuwe huis in die Lovemore Heights-landgoed in Port Elizabeth. Die huis spog met vier slaapkamers, vier en ʼn halwe badkamers en groot ontspanningsareas.

Panayiotou het die koopkontrak ter waarde van R2,35 miljoen op 22 Februarie geteken. Hy is die alleeneienaar van die huis.

“Jayde se ouers was so opgewonde. Hulle het nog grappe gemaak deur ʼn kamer te kies waarin hulle kamstig sou bly,” het Meyer gesê. Volgens hom was Jayde en Christopher albei ook baie opgewonde. “Sy was mal oor die plek. Sy kon nie wag om in te trek nie.”

Hierdie droom was egter aan skerwe toe Jayde op 21 April buite die kompleks waar die egpaar gewoon het ontvoer en later vermoor is.

Die staat beweer Panayiotou het ʼn buite-egtelike verhouding met Chanelle Coutts gehad, ʼn werknemer by die OK Grocer in Algoapark waarin hy aandele besit. Volgens die staat was Panayiotou nie finansieel in staat om sy vrou en minnares gelukkig te hou nie en het daarom besluit om Jayde te laat vermoor.

Panayiotou het glo sy werknemer, Thando Siyoli, betaal om die huurmoord van sy vrou te reël. Siyoli het as uitsmyter gewerk by ʼn nagklub wat Panayiotou besit. Siyoli het glo vir Sizwezakhe Vumazonke genader om die moord uit te voer. Panayiotou het na bewering R70 000 vir die moord betaal, waarvan Vumazonke R40 000 ontvang het en Siyoli R30 000.

Panayiotou sal Donderdag hoor of sy aansoek om borgtog suksesvol was.

Intussen is daar nog geen aanduiding van wat Panayiotou beplan om met sy nuwe huis te doen nie. Die bank het ʼn verband op die huis vir die volle koopprys geregistreer en Panayiotou se paaiement kan meer as R20 000 per maand wees. Die eerste paaiement is teen einde Junie betaalbaar.

Panayiotu het ook ʼn verband op die huis in Kabegapark waar hy en Jayde gebly het. Hy het in die hof onder eed gesê hy verdien ʼn maandelikse inkomste van R30 000.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

“Lovemore” Heights-landgoed.
Hoe ironies die naam.

HFC ·

Ek wonder maar net hoe hy ‘n verband van meer as R2,3 miljoen met ‘n inkomste van R30 000 p/m kon kry want met die huidige krediet wet kwalifiseer hy nie naastenby daarvoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.