Lydenburg-trokdrywer gou in die hof

Die betrokke vragmotor. (Foto: Twitter)

Die vragmotorbestuurder wie se vragmotor Vrydag deur Lydenburg geploeg, grootskaalse verwoesting gesaai en boonop die lewe van ʼn jong egpaar geëis het, sal gou in die hof verskyn.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het aan Maroela Media bevestig dat die betrokke bestuurder kort ná die voorval in hegtenis geneem is.

“Hy is op waarskuwing vrygelaat, maar moet Maandag in die Lydenburg-landdroshof verskyn,” sê Mmusi.

Die polisie het Saterdagmiddag die besonderhede van die vragmotorbestuurder se lot aan Mmusi meegedeel.

Die beskuldigde word nou deur aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, asook twee aanklagte van strafbare manslag in die gesig gestaar.

“Die polisie ondersoek nog die saak en is besig om bewyse in te win wat voor die hof gebring gaan word.”

Maroela Media het vroeër berig dat die vragmotor se remme glo ingegee het, wat daartoe gelei het dat dit kilometers ver deur die dorp se Voortrekkerstraaat geploeg het.

Angswekkende beeldmateriaal van die voorval, asook foto’s van die skade wat agtergelaat is, is sedert Vrydag op sosiale media gedeel.

Hoewel die omvang van die skade nog bepaal moet word, is dit reeds bevestig dat minstens tien motors erge skade opgedoen het.

Twee mense is ook weens ʼn direkte botsing met die vragmotor dood en talle is na bewering beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.