Lyfstraf-uitspraak ‘is slag vir geloofsvryheid’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Konstitusionele Hof se uitspraak rakende lyfstraf in private huishoudings skep ʼn gevaarlike presedent dat die staat gelowiges kan voorskryf oor hoe om skriflesings te verstaan en uit leef, wat in wese hul reg op die vryheid van godsdiens skend.

Só het Daniela Ellerbeck, regsverteenwoordiger vir Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika (FOR SA), Woensdag gesê in reaksie op die hof se bevinding dat lyfstraf in private huishoudings onwettig bly.

Maroela Media het vroeër berig die Konstitusionele Hof het in November verlede jaar ʼn aansoek deur FOR SA aangehoor waarin versoek is dat ʼn hooggeregshofuitspraak van 2017 waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel word.

Die hof het egter vanoggend in ʼn meerderheidsuitspraak bevind aangesien kinders steeds doeltreffend gedissiplineer kan word sonder matige en redelike tugtiging, is daar wel minder beperkende middele om dissipline te bewerkstellig. Die regters het bevind gemenereg-verdediging van redelike en matige tugtiging deur ouers is strydig met die bepalings van die Grondwet.

Hoewel FOR SA nog nie die geleentheid gehad het om die uitspraak te bestudeer nie, sê Ellerbeck dit is “ontstellend dat ouers se reg om hul kinders op te voed volgens hul eie oortuigings en wat hulle glo in die beste belang van hul kinders is, nie gehandhaaf is nie”.

Ellerbeck sê voorts hoofregter Mogoeng Mogoeng maak nou misdadigers van gelowige ouers wat glo dat die Skrif hulle toelaat, indien nie beveel nie, om hul kinders uit liefde met lyfstraf reg te help indien nodig.

“Vir baie mense is daar geen ander keuse as om God eerder as die wet te gehoorsaam nie. Gevolglik sal goeie gelowige ouers, wat net die beste vir hul kinders wil hê, moontlik sien hoe hul gesinne uitmekaarskeur soos wat in ander lande gebeur waar [lyfstraf] verbied is. Dit sal gesinne as die grondslag van ons samelewing vernietig,” glo Ellerbeck.

Volgens Ellerbeck is FOR SA ten sterkste gekant teen enige vorm van geweld teen kinders, hoewel daar ʼn duidelike onderskeid getref moet word tussen geweld en mishandeling, en ligte, onskadelike lyfstraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

108 Kommentare

jongste oudste gewildste
Erik

Ñ pakslae op sy tyd doen geen kwaad. Ek het pakslae baie gekry en het respek vir ander en maniere teenoor myself en ander. Dit is hoekom die jeug van vandag maak en breek soos hul wil..sielkunde kom 2de na pakslae..

Susan vl

Staat moet maar op hulle kop staan.. ek volg my Bybel.

Tanya

Julle wat SA nou bestuur. Alles wat in die woord van God staan ondermyn julle

Abe

Jammer, maar ek moet saamstem met die grondwet en soos die bepalings van die grondwet deur die konstituele hof geinterpreteer is. ‘n Mens kan net eenvoudig nie vertrou dat alle ouers die verantwoordelikheid sal he om lyfstraf redelik en tot heil van die kind toe te pas nie. As die mate van geweldadigheid aan ouers oorgelaat word, sal daar te veel ouers wees wat oordadig en wreedaardig sal optree, nie eers van onbeheersd en moorddadig, te praat nie.

Lena Jonk

Dit omdat die Bybel riglyne nie meer gebruik word nie dat die mensdom verlore gaan, dis n feit. Kinders word nie volgens die Woord grootgemaak nie, weet nie wat is reg nie, ouers word deesdae soos kinders behandel. Nee wat julle regerings met julle verdraaide wette sal nog boet daarvoor.