Lyk by Pta-laerskool nog ʼn raaisel

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn man by ʼn Pretoriase laerskool nie.

Ao. Hero Gumbu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die Pretoria-Moot-polisie is steeds besig om almal se verklarings af te neem en dat die ondersoek voortduur.

Intussen het die Gautengse departement van onderwys aan Maroela Media gesê die departement is bewus van die voorval, maar het alle navrae na die polisie en Kilnerpark Security verwys.

“Berading is aangebied aan leerders en personeel by die skool wat dit nodig sou hê,” het Oupa Bodibe, waarnemende woordvoerder van die departement, gesê. Hy het gesê bedrywighede by die skool is glad nie deur die voorval geraak nie.

Maroela Media het Maandag berig die liggaam van ʼn beweerde inbreker, in sy vroeë 30’s, is Maandagoggend by Laerskool Wonderboom-Suid gevind.

Klaas van der Kooi, eienaar van Kilnerpark Security, het vroeër aan Maroela Media gesê twee inbrekers het vermoedelik Sondagaand by ʼn huis ʼn paar huise van die laerskool af probeer inbreek.

“Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit en een van hulle het na bewering oor die skool se heining gespring om weg te kom,” het Van der Kooi gesê.

Die verdagte is deur terreinwerkers wat op die skoolgrond woon, betrap en aangekeer. Kilnerpark Security is kort daarna ontbied.

“Ons het drie voertuie op die toneel ontplooi. Die polisie is in kennis gestel, maar het lank gevat om op te daag. Aangesien die toneel veilig en onder beheer was, het die beamptes gery en die verdagte lewend agtergelaat.”

Van der Kooi het gesê hulle is vanoggend ingelig ʼn liggaam, vermoedelik dié van die vermeende inbreker, is by die skool gekry.

Ao. Hero Gumbu, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is omstreeks 06:00 in kennis gestel dat ʼn liggaam van iemand wat vermoedelik aangerand is, by die skool gevind is. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die veiligheidswagte en die betrokke terreinwerkers word ondervra.

Van der Kooi het gesê hulle gee hul volle samewerking aan die polisie met hul ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vra maar net ·

Wie sê dit is een en dieselfe persoon wat die huis beroof het?
As dit so is het die booswig sy rieme styf geloop. Polisie hoef nie ‘n held van hom te maak nie.

Michael ·

Ek bly in die Moot polisie area en ek kan uit vorige ondervinding met die betrokke stasie sê dit sal ‘n wonderwerk wees as hulle die skuldiges vang

ig ·

Miskien het die werkers wat op die terein woon hulp van Parys af gekry

FW ·

Ek weet dit hou geen verband met die artikel nie maar die moot polisiestasie het vreeslik agteruitgegaan in die laaste paar jare,tuine is verwaarloos ,onvriendelike rasiste wat weier om jou te help as jy nie Engels praat nie.Die staat kan die stasie maar sluit of oordra na ‘n sekuriteit maatskappy glo ons sal beter diens daar ontvang.

Takkie Takuuza ·

En as dit boere was, dan was hulle op die plêk in hegtenis geneem net oor hulle op die perseel was. Die polisie het in Parys ook lewendige skelms van die perseel verwyder.

Sus ·

Miskien moet die gereg met die inbrekers maak soos met die taxi’s – hulle oortree die wet en los dit vir die publiek om uit te sorteer. Voornemende inbrekers sal liewer ‘n ander werkie gaan soek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.