Lyk in Harties-dam toe nié die van wit skoolseun

GoldenGate_Reint_Dykema_Dam_Water_Berg.jpg

Argieffoto: Reint Dykema

Die lyk wat die naweek deur ʼn visserman in die Hartbeespoortdam in Noordwes gevind is, is deur middel van ʼn nadoodse ondersoek geïdentifiseer.

Die liggaam was reeds erg ontbind toe dit gevind is en die persoon kon nie op die oog af geïdentifiseer word nie. Maj. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is aanvanklik vermoedelik die liggaam is dié van ʼn wit seun wat nog in sy skooluniform was.

“Die nadoodse ondersoek het egter getoon dat die liggaam dié is van Esther Rikhotso, ʼn 30-jarige swart vrou met ʼn ligte gelaat,” het sy gesê. Volgens Makau was Rikhotso baie kort en skraal gebou.

Makau het gesê Rikhotso het as ʼn veiligheidsbeampte by die Wonderboom-lughawe in Pretoria gewerk, waar sy ʼn werkuniform gedra het. Rikhotso het Sondag 5 Julie by die werk opgedaag, maar was baie emosioneel en het gehuil. Sy het aan haar kollegas gesê sy het persoonlike probleme.

Omstreeks 20:00 die aand het ʼn kollega haar huis toe geneem, het Makau gesê. “Terwyl hulle gery het, het sy die hele tyd met iemand op haar selfoon gepraat. Sy en die ander persoon was duidelik besig om te baklei en sy het gehuil,” het sy gesê.

Die kollega het Rikhotso by ʼn taxistaanplek afgelaai waar sy in ʼn man, na bewering haar kêrel, se motor geklim het. Sy is daarna nie weer lewend gesien nie.

“Dit is nie in hierdie stadium duidelik of Rikhotso verdrink het of vermoor is voordat haar liggaam in die dam gegooi is nie,” het Makau gesê. “Vir die oomblik doen die polisie slegs ʼn geregtelike doodsondersoek. Ons ondersoek sal bepaal of verdere stappe geneem moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.