Lyk in veld dalk dié van vermiste man

Kevin Conn. Foto: Facebook

WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe kykers ontstel.

Die Muldersdrift-polisie aan die Wes-Rand ondersoek die moontlikheid of ʼn liggaam wat onlangs in ʼn veld in die gebied gevind is, dié van ʼn vermiste man van Randburg is.

Konst. Gloria Maswanganye, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die man se liggaam is op 19 April omstreeks 18:30 deur ʼn verbyganger in die veld langs Clinicweg in Muldersdrift gevind.

Volgens Terry-Ann Coetzee, woordvoerder van Drift Reaction-veiligheidsmaatskappy, het ʼn motoris op die erg ontbinde liggaam afgekom toe hy daar stilgehou het om homself te verlig en ʼn slegte reuk geruik het.

“Hy het besluit om ondersoek in te stel en op die liggaam afgekom wat in ʼn seil toegedraai was. Die liggaam was so erg ontbind dat ʼn mens nie kon vasstel of dit dié van ʼn man of ʼn vrou was nie. Volgens paramedici wat op die toneel was, het die liggaam sowat ʼn maand daar gelê,” het Coetzee gesê.

Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en polisie is na die toneel ontbied.

Maswanganye het gesê die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geregistreer en met nadere ondersoek is vasgestel dat daar op 17 Maart ʼn vermiste persoon by die Randburg-polisie aangemeld is.

“Die klere en skoene aan die liggaam het by die beskrywing gepas van die man wat vermis geraak het,” het Maswanganye gesê.

Die man wat as vermis aangegee is, is die 42-jarige Kevin Conn. Noeleen Conn, Kevin se ma, het intussen op sosiale media gesê: “Rus in vrede, my liewe seun. Sal vir altyd lief wees vir jou.” Volgens Conn is haar seun glo vermoor.

Maswanganye het gesê die polisie wag nog op DNS-toetse se uitslae om die man se identiteit en oorsaak van dood te bevestig.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat hulle met hul ondersoek kan bystaan. Bel die Muldersdrift-polisie by 011 952 4600 of Stop Misdaad by 0860 010 111.

Die liggaam wat in die veld gevind is. Foto: Via Drift Reaction

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

GM ·

‘Glo vermoor?’ Ek glo nie hy sou homself in ‘n seil toegedraai het nie.
So hartseer dat mens nêrens meer veilig is nie. Sterkte aan sy naasbestaandes.

KAS ·

Hy is al erg ontbind in ‘n seil toegedraai en die polisie registreer ‘n nadoodse ondersoek.Is dit dan nie moord nie

Vlooi ·

Enige onnatuurlike dood moet n nadoodse ondersoek op gedoen word. Dis n ondersoek om vas te stel waaraan is hy oorlede

BB ·

GM is jy die berig reg verstaan is dit sy ma wat se haar seun is vermoor. Geen berig kan voortydig ‘n moord bevestig nie.

Tentjie ·

Volgens die polisie het hy homself seker doodgemaak en toe in ‘n seil toegerol . REGTIG MENSE . hoe naief kan julle wees?

Nel ·

‘n Menselewe word elke dag minder werd…wanneer gaan die wiel begin draai?

Casper Labuschagne ·

Dit is nie bloot moord nie, dit was ‘n teregstelling. Hy is op ‘n ander plek doodgemaak, in ‘n seil toegedraai en in die veld gegooi sodat hy nie gou opgespoor sal word nie. In so ‘n geval kyk jy na georganiseerde misdaad, enigiets wat dwelmverwant is, enigiemand of enige organisasie wat ‘n grief teen hom gehad het of na iets wat hy self by betrokke was.

Dit sal egter vir die huidige SAPS ‘n aansienlike tydjie neem om tot die gevolgtrekkings hierbo te kom, selfmoord is verseker minder papierwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.