Lyk op Tafelberg is dié van vermiste ingenieur

Jacobus Kriel Foto: Facebook

Die liggaam wat in Maart op Tafelberg gevind is, is positief geïdentifiseer as dié van Jacobus Kriel (29) van Reitz in die Vrystaat wat in Februarie verdwyn het.

Mercia Kriel, Jacobus se ma, het aan Maroela Media gesê DNS-toetse het bevestig die liggaam van die onbekende jong man wat op Tafelberg gevind is, is dié van hul seun.

Jacobus, ʼn ingenieur, is op 10 Februarie die laaste keer in die Reitz-distrik gesien. Hy het met ʼn toer van die land begin. Sy ouers, Dawid en Mercia, het egter begin bekommerd raak toe hulle hom nie in die hande kon kry nie en hy is as vermis aangemeld.

Jacobus se silwer Toyota Prado is verlede week in ’n parkeerterrein op die Universiteit van Kaapstad se kampus gevind.

“Jacobus was altyd avontuurlustig en baie lief vir die natuur waar hy ook naby gevoel het aan sy Skepper. Sy passies was rotsklim, seilvaart en duik. Dit is dan op Tafelberg waar sy reis deur Suid Afrika en ook hierdie lewe tot ‘n einde gekom het.

Sy liggaam is eers ‘n paar dae later gevind, waar hy van ‘n krans af geval en teen ‘n skuinste af gerol het. Net ‘n klein boompie het sy val gestuit en verhoed dat hy in ‘n skeur beland – anders sou ons dalk nooit sekerheid kon kry nie. Dit is dan met groot hartseer dat ons van ons seun moet afskeid neem,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel het ‘n forensiese patoloog hulle ná ’n koerantberig oor Jacobus se verdwyning, in kennis gestel van die lyk van ’n jong man wat op Tafelberg gevind is. Die forensiese patoloog het bevestig hulle het ’n nadoodse ondersoek gedoen en die persoon is nog nie geïdentifiseer nie.

Jacobus se ouers is daarna na Kaapstad om die DNS-toetse te doen om vas te stel of die lyk wat gevind is wel dié van hul seun is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pierre de Villiers ·

Hoe is dit moontlik dat `n voertuig vir drie maande lank op `n kampus, of enige ander plek staan, en niemand bevraagteken dit nie?

JoeV ·

Pierre, jy sal verbaas wees, onlangs in Sandton was daar voertuie wat meer as ‘n jaar al staan sonder dat iemand weet hoekom of waar die eienaars is (nie die op die trein stasies nie). Is nie maklik vir gebou eienaars om voertuig inligting te bekom nie.

E. ·

Die vraag is eerder: “Waarom op kampus?”

Hoekom daar parkeer as jy Tafelberg gaan klim?

Elize C ·

Ek vermoed sy voertuig is dalk gesteel nadat hy dit in die omgewing parkeer het waar hy gaan bergklim het. Skelms het seker opgemerk die voertuig staan al ‘n paar dae daar, en hul kans waargeneem. Hul draaie gery en die voertuig op die ou end by die parkeergronde gaan los. Baie sterkte aan die familie, jul berusting kan nou begin, nou dat julle WEET. Onsekerheid maak mens mal.

Reinhardt ·

Was julle al in die Kaap? UK sit op die voet van die berg, dis die beste plek om jou kar te parkeer as jy wil gaan bergklim.

Ai ·

Shame, dis nou slegte nuus. Mag hy in vrede rus en sterkte aan sy familie.

ekke ·

Ag asseblief! Hou tog op om te “shame”! Dsar is genoeg Afrikaanse woorde wat dieselfde betekenis het.

Elize C ·

Adam, daar het net een gedagte by my opgekom met jou opmerking…… “Ai……”

Nettie ·

Ai, Adam, mens rus in vrede as jy dood is, want dan is jy uit hierdie lewe met sy hartseer, pyn en lyding … en ontslae van mense wat dink soos jy ….

Sandy ·

Ek is bitter jammer vir sy ouers. My innige meegevoel. Hy was nog so jonk.

SARIE VAN HEERDEN ·

ADAM, ek vra dieselfde vraag as jy. Hoe rus jy in vrede nadat jy dood is.
Ek weet ook maar nie want ek het nog nooit iemand ontmoet wat al dood was, teruggekom en vir ons kon vertel wat daar ANDERKANT aangaan nie.

Zena ·

Sterkte aan sy familie en vriende…. Dis so hartseer vir sy familie.

Ingrid ·

Jammer vir die familie!! Mag julle vertroosting vind in die moeilike tyd.

Piet ·

R.i.p. is maar n term wat gelowige mense gebruik. Die wat al die geloofsbeleidenis afgele het sal mos weet dat God kom om ” te oordeel oor die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het”. Die siel sal dus rus tot die oordeelsdag. Is daar nog mense wat nie weet wat Ai bedoel nie?

Theresa ·

Innige simpatie aan die ouers van hierdie jongman. Onnodig vroeg oorlede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.