Lyk toevallig gevind ná motor in rivier beland

Die toneel. (Foto: ER24)

’n Man se liggaam is Dinsdagoggend in ʼn voertuig in die Duzi-rivier in Pietermaritzburg gevind nadat polisiebeamptes vir ’n onverwante voorval na die toneel ontbied is toe nóg ’n voertuig in dié rivier beland het.

Dié vonds het gevolg nadat ʼn motor vroeër vanaf Commercialweg in die rivier beland het. Een persoon is dood en vyf ander beseer in die ongeluk.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê nooddienste is omstreeks 04:15 vir die eerste keer na die area ontbied waar hulle ʼn motor in die middel van die rivier aangetref het. Drie van die ses insittendes het reeds op die oewer gesit terwyl die ander drie toe steeds in die motor in die water was.

ʼn Vrou, vermoedelik in haar twintigs, is op die toneel dood verklaar. Die ander beseerdes is op die toneel vir matige beserings behandel voordat hulle na ʼn hospitaal geneem is.

Die polisie is na die toneel ontbied om ondersoek na die ongeluk in te stel.

Volgens Meiring is paramedici egter omstreeks 06:50 vir die tweede keer na dieselfde toneel ontbied. Terwyl die polisie op die toneel besig was, het hulle op die liggaam van ʼn man afgekom sowat 10 m vanwaar die motor vroeër in die rivier beland het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media verduidelik dat die liggaam in ʼn ander motor in die rivier gevind is. Paramedici het bevestig dat die man vermoedelik ʼn geruime tyd al dood is.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is in verband met dié vonds geopen.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek in verband met vanoggend se ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Dit gaan my verstand te bowe dat niemand n persoon as vermis aanmeld nie. Genade as jy vir geruime tyd nie van jou man, seun of enigiemand na aan jou verneem nie moet jy mos wonder.

Fish ·

Die persoon is dalk vermis aan-gemeld maar wie gaan soek ‘n vermiste persoon in ‘n rivier as daar geen persone gesien het hoe die kar in die rivier beland het nie en nie aangemeld het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.