Beamptes van die Limpopo-polisie se soek-en-reddingseenheid het oor die naweek die liggame van vier mense uit riviere in die provinsie verwyder, nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle verdrink het.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê drie liggame, van ʼn vrou en twee mans, is in ʼn rivier in Levubu uit die water gehaal. “Hulle het Saterdag in ʼn bakkie gery toe die bestuurder beheer verloor en die bakkie in die Lebuvurivier beland het. Al drie insittendes het verdrink. Hul liggame is Sondag gevind en uit die water gehaal,” het Mojapelo gesê.
Mojapelo het gesê die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word ondersoek.
In Giyani is die liggaam van ʼn jong man gevind, nadat hy Vrydagmiddag tydens ʼn gewapende roof in die Ritavirivier in gedwing is.
Maroela Media het vroeër berig die man, Tebogo Ngonyama (19) en sy vriend, Desmond Fantini (28), was op pad na hul huise in Mapuve buite Giyani toe twee gewapende mans hulle voorgekeer het.
Die verdagtes het die mans van R310 beroof. “Die slagoffers is toe glo na die Ritavirivier geneem en gedwing om in die water te gaan. Die rivier was in vloed. Fantini kon daarin slaag om oor die rivier te swem maar Ngonyama kon nie en het onder die water verdwyn.”
Dieselfde soek-en-reddingspan het Ngonyama se liggaam Sondag opgespoor en uit die water gehaal.
Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees tydens voortdurende reënweer in dele van die provinsie en om riviere slegs by relevante plekke oor te steek as dit veilig is.
En weer is liggame gevind en nog steeds is die vrou wat die apies rivier in Capital Park oorgesteek het soek.
Iets ruim nie. Of ek het berig gemis dat sy gevind is.