Lyke ontbind glo in kraglose lykshuis

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Lyke ontbind glo geredelik in die staatsbeheerde Ga-Rankuwa-lykshuis in Pretoria omdat dié fasiliteit al maande lank nie ʼn werkende kragopwekker het nie.

Intussen sê begrafnisondernemers dat die lyke wat van dié lykshuis af kom dikwels in ʼn haglike toestand is – soveel so dat die oorledenes se familie erg ontstel word.

Nomathemba Mokgethi, LUR van gesondheid in Gauteng, het in antwoord op ʼn vraag van die DA in die Gautengse wetgewer uitgebrei oor die stand van sake by die betrokke lykshuis.

“ʼn Wanfunksionele kragopwekker het grootliks tot die situasie bygedra, asook die voortslepende beurtkrag en elektrisiteitsvermindering in die Ga-Rankuwa-omgewing,” sê sy.

“In geval van beurtkrag word die liggame in ʼn vrieskas in die lykshuis gestoor en dan weer vroegoggend uitgeneem vir ʼn nadoodse ondersoek.”

Mokgethi het ook verduidelik wat daartoe gelei het dat die lykshuis se kragopwekker onklaar geraak het en hoekom die situasie nog nie beredder is nie.

Die probleme met die kragopwekker het op 26 Februarie begin toe ʼn Eskom-substasie in die gebied onklaar geraak het en die kragopwekker nie wou werk nie. Die lyke wat op daardie stadium in die lykshuis was is eers die volgende dag na die Pretoria Forensiese Laboratoriumdiensfasiliteit oorgeplaas en op 1 Maart terugbesorg nadat die krag na die lykshuis herstel is.

Op 5 Maart het die kragopwekker weer versuim om te werk en daar is gesê dat die brandstoftenk skoongemaak moet word.

Vyf dae later is daar vasgestel dat die Ga-Rankuwa-lykshuis se kragopwekker ʼn nuwe alternator benodig.

Ten spyte van versoeke hiervoor het die departement van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng gesê dat hy “uitdagings ervaar in die goedkeuring van die aankoopbestelling” aangesien sommige van die amptenare wat verantwoordelik is om hierdie soort bestellings goed te keur geskors is.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het die departement eers einde Mei aan die kragopwekker gewerk, maar ʼn ou alternator gebruik. Nou moet tegnici elke keer ontbied word as die krag by die lykshuis afgaan sodat dié dit met die hand aan die gang kan kry.

“Die jongste nuus hieroor is dat die departement nog steeds wag op goedkeuring vir die aanstelling van ʼn kontrakteur deur sy voorsieningsbestuurseenheid,” sê Bloom.

“Die wortel van die probleem is swak diens deur die departement wat verantwoordelik is vir die kragopwekkers by Gauteng se agt provinsiale lykshuise. Hierdie lykshuis doen daagliks nadoodse ondersoek op alle onnatuurlike sterftes.”

Bloom meen dat die geliefdes van hierdie oorledenes nou al erg getraumatiseer is met dié stand van sake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman ·

Bla… bla… bla… Onkunde en onbevoegdheid op alle vlakke… Viva Ramaparra SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.