M2 weer oop vir motoriste

Herman Mashaba, David Makhura en Mangosuthu Buthelezi het die heropening van die M2 gelei. (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency(ANA).)

Gebruikers van die M2, wat as ʼn hooftoevoer deur die stad van Johannesburg dien, kon Maandag ʼn sug van verligting slaak ná dié pad se brug ná agt maande heropen is.

Die brug is sedert Februarie vanjaar gesluit weens opknappingswerk van R160 miljoen, maar dit het ʼn verkeershoofpyn vir baie inwoners en besoekers in die stad veroorsaak omdat verkeer herlei moes word deur die stad se sentrale sakedistrik. Sedert die pad vroeër vanjaar gesluit is, moes 12 000 motoriste alternatiewe roetes vind.

Die M2 was tussen die Crown-wisselaar en Maritzburg-straat afgesper.

Herman Mashaba, die stad se uitgaande burgemeester, het verlede Donderdag reeds die brug amptelik heropen. Hy is begelei deur David Makhura, die Gautengse premier, en Mangosuthu Buthelezi, die voormalige leier van die IVP.

“Ek is trots daarop dat die projek binne die tydstip wat daargestel is, gelewer is. Vir die volgende 50 jaar is hierdie pad beskikbaar vir die stad se inwoners,” het Mashaba gesê.

Die opknappings was noodsaaklik vir die veiligheid van die M2 se gebruikers omdat die pad vloedskade opgedoen het weens ʼn tekort aan stormwater-infrastruktuur.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, sê die metropolisie is ontplooi om met die verkeersvloei te help en die stad veiliger vir motoriste te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wim ·

Ek persoonlik dink iemand moet dalk net weer die syfers na gaan… Iemand het hul self weer verryk deur die proses….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.