Ma, baba sterf saam in botsing

Argieffoto

ʼn 36-jarige vrou en haar eenjarige baba is dood nadat twee motors Saterdagaand in Kimberley in die Noord-Kaap gebots het.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, het gesê die oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie. Die ma en haar baba is op die toneel dood verklaar, terwyl die bestuurder wat saam met hulle in die motor was na ʼn plaaslike hospitaal gehaas is.

Meganiese toerusting moes gebruik word om die drie insittendes van die ander motor uit die wrak te bevry en hulle is ook na ʼn hospitaal geneem.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Volgens Tawana is dit net twee van talle tragiese sterftes op Noord-Kaapse paaie gedurende die Paasnaweek. ʼn 19-jarige man is dood nadat die voertuig waarmee hy gery het op die N1 naby Hanover omgeslaan het toe hy vermoedelik vir ʼn rondloperbok uitgeswaai het.

ʼn Tweejarige seuntjie is dood nadat ʼn BMW ook op die N1 naby Hanover omgeslaan het. Die pa van die peuter en twee ander insittendes in die voertuig is na ʼn hospitaal gehaas.

Die polisie in Norvalspont ondersoek twee sake van strafbare manslag nadat twee passasiers, onderskeidelik 7 en 19 jaar oud, gesterf het toe ʼn Opel Corsa omgeslaan het nadat die motor se band gebars het. Die 62-jarige bestuurder van die motor is ná die ongeluk na ʼn hospitaal geneem.

Nog twee mans, onderskeidelik 40 en 56 jaar oud, is dood in ʼn trompop botsing naby Mothibistad en nog twee mense het gesterf in ʼn trompop botsing op die R359 buite Augrabies.

In Hartswater is ʼn 37-jarige vrou dood nadat sy deur ʼn voertuig raakgery is. Die bestuurder van die voertuig is van strafbare manslag aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Tuisbly ·

Ek, Jan Tuisbly, het nogal lig daarvan afgekom met my tuisblykarretjie. Al beserings was gisteraand toe ek agv luiheid en dink dat ek my huis ken, skrams in die donker my kop se regterkant te pletter geloop het teen die slaapkamer se deurkosyn. So leer mens om eerder maar ‘n lig aan te skakel selfs al is jy nie deur die slaap. Dit reën tans lekker hier teen die Vuildam,(voorheen Vaaldam) wat nou oor die 100% is, natuurlik met ‘n rioolgeursel.
Mens wil nie pessimisties wees maar die reën kan dalk méér padongelukke veroorsaak want ons verseg om by padtoestande aan te pas.
Daar was in die ou dae se myl per uur ‘n sêding van: ‘Ry 80 mpu en leef tot 40 (jaar); Ry 40 en leef tot 80. ‘n Waarheid waaraan daar nie gehoor gegee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.