Ma, babadogter veg saam vir hul lewens

Deur Megan Gittins

Ruaché Botha het by geboorte net 440g geweeg. (Foto: clickndonate.com)

ʼn Ma van Kemptonpark aan die Oos-Rand en haar pasgebore “wonderbaba” word saam in waakeenhede van ʼn Pretoriase hospitaal behandel nadat die babadogtertjie op 26 weke gebore is.

Mari en Johan Botha se dogtertjie, Ruaché, is op 15 Mei in die Life Wilgers-hospitaal met ʼn noodkeisersnee in die lewe gebring nadat Mari (28) komplikasies met haar swangerskap ervaar het. Klein Ruaché het by geboorte net 440 g geweeg.

Mari ly aan lupus, ʼn outo-immuunsiekte waar die liggaam sy eie gesonde weefsel aanval, en het jare voor haar swangerskap bloedverdunningsmedikasie gebruik. Toe sy swanger word, is hierdie chroniese medikasie verander en ʼn bloedklont het in die naelstring gevorm. Dít het die voeding na die baarmoeder afgesny en ʼn keisersnee moes noodgedwonge gedoen word.

Johan vertel Ruaché moes kort na haar geboorte verskeie kere bloedoortappings ontvang omdat sy slegs 30 ml bloed in haar liggaam gehad het. “Hulle moes elke keer 6 ml bloed getrek het om verskillende toetse te doen,” verduidelik Johan.

Ruaché is steeds aan masjiene gekoppel wat haar deur ʼn voedingsbuis voed.

Mari Botha in die waakeenheid van die hospitaal. (Foto: clickndonate.com)

Omdat die klein baba nie werklik ʼn immuunstelsel het nie, het sy vandeesweek ʼn infeksie opgedoen. “Die volgende 48 uur is kritiek,” sê Johan. “Sy het ʼn goeie aand gehad maar sy lyk baie bleek.”

Na Ruaché se geboorte was dit nie net sy wat om haar lewe moes veg nie, maar ma Mari ook. Mari is in die waakeenheid opgeneem met nierversaking en ondergaan sedertdien daagliks dialise. Johan verduidelik dat indien die dialise nie daagliks gedoen word nie, vul haar longe met vog.

Mari se niere het verswak tot 8% funksionaliteit, maar dokters kan steeds nie vasstel of ʼn nieroorplanting nodig sal wees nie. “Sy moet Vrydag gaan vir ʼn nierbiopsie om te bepaal wat presies fout is,” sê Johan.

Nietemin is daar steeds ʼn moontlikheid dat Mari volgende week, ná 50 dae in die hospitaal, ontslaan kan word. Dokters het ʼn permanente poort ingesit sodat sy vanaf die huis dialise kan ontvang.

Ruaché in die hospitaal. (Foto: clickndonate.com)

Johan verduidelik weens Mari se mediese toestand, is sy nie in staat om te werk nie. Dié situasie plaas die gesin onder geweldige finansiële druk en die hospitaalkoste bly ophoop.

Tog kry die situasie nie die gesin onder nie, sê Johan. “Ons baklei geestelik so hard vir hulle.”

ʼn Skarefinansieringsinisiatief is begin om die Botha-gesin finansieel te ondersteun. Teen Woensdag is reeds bykans R45 000 vir die gesin ingesamel. Klik hier vir meer inligting of om ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SM ·

Dit is regtig tragies.. hoop hulle bly albei veg. 440 gram is verskriklik klein. Ek maak met liefde ‘n bydrae.

Skerpioen ·

Die ventilator is nie aan n voedingsbuis gekoppel wat haar voed nie. Dis aan n ET tube gekoppel. Premme op daai oudersom se magies het nog nie ten volle ontwikkel nie en die baba behoort seker dalk nog binne-aarse voeding te kry. Sy sal wel haar mamma se borsmelkies kry bietjies vir bietjies sodra haar magie kan kan hanteer. God is baie groot en Hy sal waak oor haar. Die pediaters en neonatale susters sal haar soos goud op pas soos wat hulle doen met elke premmie wat oor hul pad stap. Mamma en Pappa ek weet julle kry nou swaar. E n Pappa jy worrie nog oor jou vrou ook. Ek bid dat God julle krag en vrede sal gee. Wens ek kon julle n drukkie gee.

anni ·

Daar is Al melk vir haar gegee, ek kry daagliks boodskappe van albei se vordering.

Johann cb ·

Sjoe mense, wat ‘n wonderwerk – slegs 30ml bloed in die klein liggaampie! Sy sal dit maak! Sterkte aan die ouers!

Wilmien ·

Baie sterkte mamma en pappa en kleinding…mag God julle in die holte van Sy Hand hou….ons bid vir julle xx

Strandloper ·

Sooooo klein. My oudste was 870 gram en dit was bitter klein. Vandag is hy my Bul. Julle sal daar deur kom.

Rinie Houben ·

Ons bid vir hulle. Niks is ontmoontlik vir ons hemelse Vader ie

Elize Basson ·

Baie sterkte mamma en pappa en kleine prinsessies. Ons bid vir julle. Mag Jesus julle albei volkome genees. Ons gaan verseker n bydra maak.

jax ·

Hierdie 2 yster meisies gaan die wêreld nog ‘n ding wys… ons hou aan bid
word julle net sterker, le julle by Jesus se voete neer!
MM hou ons asb op hoogte

Hallelujah ·

Niks is onmoontlik vir God nie – niks nie. Mari, Ruache julle moet gespaar bly vir Johan. Amen Amen

Christa Lubbe ·

Ek het in my lewe geleer dat net Vader die reg het op lewe…Hy is die enigste Een wat dit bepaal. Hierdie Mamma en baba LEWE…en dis wat almal oor hulle gaan uitspreek. Ken julle Bethel Music se ‘Raise a Hallelujah’? Speel dit, sing dit…tot julle nie meer asem het het nie! Ons bid vir hulle en die Pappa en res vd familie????????????

Abigail Oliphant ·

One vertrou hulle toe in die holte van Jesus hande. Hallelujah.

Retha Roux ·

As dit die Vader se wil is dat die kleine mensie moet leef sal Hy dit laat geskied. Wees sterk en vol moed, mamma en pappa. Jammer ek kan nie geldelik bydra nie, maar my gebede na die Vader is nie onbeperk nie.

Jessica ·

Sjoe dit is baie klein. My dogtertjie was gebore op 29 weke op 1.3 kg. In die 48 dae wat sy in die neotale eenheid was, het daar babas ingekom op onder 500 g. Daardie susters het so baie ervaring en geduld. Hulle kyk werklik baie mooi na die babas. My dogterjie is al amper 3. Ek vat haar nog gereeld om by die hospitaal, sodat die susters kan sien wat hulle liefde en omgee doen en ook ons waardering vir hulle. Mamma en pappa ons ons bid saam julle. Sonder God is niks ontmoontlik nie. Ons moet net bly glo en bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.