Ma bly hoop ná baba Lara se diagnose

Lara van Vuuren. (Foto: Facebook)

Byna drie jaar ná baba Lara van Vuuren se vroeë en traumatiese geboorte is die klein dogtertjie uiteindelik amptelik met ʼn mediese toestand gediagnoseer – maar dit is nuus wat geen ouer wil ontvang nie.

“Lara is verlede week met hipotoniese serebrale gestremdheid gediagnoseer,” sê Jean-Mari van Vuuren, Lara se ma. “Dit is ʼn skaarser vorm van serebrale gestremdheid wat lae spiertonus veroorsaak. Dit is ʼn toestand wat nooit weggaan nie.”

Van Vuuren verduidelik dat dié toestand deur verskeie faktore veroorsaak is, waaronder die feit dat Lara heeltemal te vroeg gebore is, ʼn suurstoftekort tydens geboorte ervaar het, breinbloeding by geboorte opgedoen het, oor ʼn lang tydperk hartversakingmedikasie ontvang het en voedingintoleransie gedurende haar tyd in die neonatale waakeenheid ervaar het. Lara was maande lank van suurstofmasjiene afhanklik wat ook ʼn bydraende faktor kon wees.

Lara het boonop ʼn algehele agterstand weens haar prematuriteit, maar ʼn breinskandering wat verlede jaar gedoen is, het reeds getoon dat sy wonderbaarlik geen skade aan haar grysstof en dus haar intellektuele vermoëns het nie. Daar is wel skade aan haar witstof, ʼn toestand genaamd periventrikulêre leukomalasie, wat tot haar motoriese agterstand bydra.

“Lara moet nou as hipotonies serebraal gestremd geregistreer word op ons mediese fonds, sodat sy gehelp kan word met die aangepaste neuro-, fisio- en arbeidsterapie wat sy op permanente grondslag sal moet ontvang. Daar is geen waarborge met hierdie terapie nie,” sê Van Vuuren.

Lara is nou twee jaar en agt maande oud en weeg 8,75 kg, maar haar fisieke ontwikkeling is tans op peil met normale babas van jonger as ʼn jaar. Sy kan steeds nie loop of kruip nie, maar kan wel op haar eie sit.

Jean-Mari van Vuuren saam met Lara in die hospitaal ná Julia en Lily oorlede is. (Foto: Verskaf)

“Dit is glad nie lekker om so ʼn diagnose te ontvang nie, maar ek weet dit kon soveel erger gewees het. Dit is ʼn absolute wonderwerk dat Lara nie erger skade opgedoen het in haar traumatiese neonatale tydperk nie. Sy is voorwaar ʼn klein vegtertjie met ʼn sterk wil.”

Maroela Media het vroeër berig Lara en haar drielingsussies, Lily en Julia, is op 30 Oktober 2016 gebore toe Van Vuuren net 25 weke en vier dae swanger was. Die sussies het by geboorte onderskeidelik net 650 g, 660 g en 550 g geweeg en was al drie in ʼn kritieke toestand.

Lily het 36 uur geleef en Julia was 62 dae oud toe sy oorlede is.

Klein Lara het egter haar geveg om oorlewing gewen en ná vier en ʼn half maande in die hospitaal is sy vir die eerste keer ontslaan. Sedertdien is dié klein dogtertjie se storie ʼn verhaal van hoop en glo haar ouers dat sy ʼn lewende getuienis van ʼn wonderwerk is.

Ondanks dié jongste diagnose glo Van Vuuren steeds dat Lara eendag almal gaan verbaas, gaan opstaan en sonder ondersteuning sal kan loop. “Ek weet daar is altyd hoop en daar vind elke dag wonderwerke plaas. Vir nou is sy hier en vir my gespaar – en dít is al wat vir my saak maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Abel ·

Ons bid saam met julle dat sy volkome sal herstel. Jesus sal haar mooie kinderlyfie gesond maak van al hierdie dinge!!

Elmarie vd Walt ·

Ons dien n God van Wonders, Lara is elke dag in my gebede, my jongste kleindogter is op 26 weke gebore is nou 2 jaar en 6 maande oud en weeg 9.6kg was n moeilike tyd 5 maande in NICU sukkel met borsie maar Glo en Vertrou dit sal met tyd regkom sterkte mamma en Lara

Ann ·

Lara, ek volg jou verhaal al vandat jy en jou sussies gebore is. Jy is ʼn ware vegtertjie en jy, Lily en Julia sal altyd ʼn bron van inspirasie wees!!!

Gesiggie ·

My gebede gaan uit na hierdie gesin en na Lara.. mag Jesus jou veilig hou en hou aan veg klein engel kind… sterkte aan die Mamma en Pappa.

Christien vd Westhuizen ·

Sy is so pragtig hou moed ons aanbid n Lewende God Hy weet wat die beste is sterkte

Michelle ·

By God is niks onmoontlik nie, Hy is ons geneesheer Hy gee krag ons moet net glo en nooit opgee nie sterkte jul is in almal se gedagte en gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.