Ma by skool doodgeskiet: ‘Dogter het gedink pa wil hele gesin uitroei’

Argieffoto

Die saak teen ʼn polisiebeampte van die Oos-Kaap wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou by ʼn plaaslike laerskool doodgeskiet het, is Dinsdag in die Oos-Londen-landdroshof uitgestel.

Zandisile Zweni (44), ʼn konstabel verbonde aan die Kidds Beach-polisiestasie, is in aanhouding sedert hy in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy vrou, Andiswa Zweni (36), in Junie vanjaar.

Zweni het sy vrou na bewering twee keer geskiet, een keer in die kop en een skoot naby aan die hart, ten aanskoue van leerders en personeel by die Voorpos Laerskool in Cambridge waar een van hul kinders ook skoolgaan.

Die man het tydens een van sy aansoeke om borgtog aan landdros Joel Caeser die skietvoorval beken, maar het gesê dit was nie met voorbedagte rade nie.

“My brein het nie lekker gewerk toe dit plaasgevind het nie. My vrou het my persoonlik beledig en toe het dié alles so vinnig gebeur terwyl ek nie bewus daarvan was nie,” het Zweni gesê.

Zweni, wat aan diens was tydens die voorval, het gesê hy onthou net dat hy ʼn enkele skoot afgevuur het en tóé ʼn persoon wat vir hom ʼn opdrag gegee het om die wapen te laat val – hy het dit toe ook gedoen.

“Ek het twee kinders by my gewese vrou, ʼn 11-jarige seun en ʼn 14-jarige dogter. Ek het ook ʼn ander seun buite die eg en moet borgtog kry sodat ek na my kinders kan omsien.”

Zweni het geen vorige oortredings of hangende sake teen hom nie, maar die oorledene het wel voorheen ʼn saak van die rig van ʼn vuurwapen en aanranding teen hom aanhangig gemaak wat sy toe later teruggetrek het.

Mthobeli Mazitshana, die ondersoekbeampte in die saak, het net voor Zweni se aansoek om borgtog van die hand gewys is aan die hof gesê Zweni sal dalk met die ondersoek inmeng.

“Ons het ʼn baie sterk saak teen die beskuldigde, waaronder beeldmateriaal wat ons by die skool gekry het,” het Mazitshana gesê.

Nomthandazo Robsini, ʼn staatsgetuie en ma van die oorledene, het tydens haar getuienis by een van Zweni se verskynings gesê die 14-jarige dogter is bang vir haar pa. Robsini het gesê die dogter het vermoed dat haar pa hul hele gesin wil uitroei, nie net haar ma nie.

Landdros Rochelle Sam het Dinsdag tydens Zweni se verskyning opdrag gegee dat hy in aanhouding bly tot die hof verdere opdragte van die direkteur van openbare vervolging (DOV) ontvang.

Maroela Media het destyds berig Mandla Makupula, Oos-Kaapse LUR vir onderwys, het kort ná die skietery sy medelye aan die geliefdes van die vrou oorgedra. “Ons gemeenskap is beroof van ʼn barmhartige individu wat haar eie tyd prysgegee het om te verseker dat die gemeenskap sinvol deelneem aan transformasie en opvoeding en om aan die basiese maatskaplike behoeftes te voldoen. Mag haar siel in ewige vrede rus en mag die familie vrede vind by die Almagtige.”

Zweni sal 19 Oktober weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Nog n beampte wat met n vuurwapen uitgereik is wat seker nie eers n bevoegtheid toets gedoen het nie. Hoeveel van hulle het n wapen sonder dat hulle n lisensie gekry het?

Pieter ·

Ons wettige vuurwapen eienaars moet so baie doen om wapen lisensies te kry en te behou. mense soos hy gee die wat ons wil ontwapen net meer rede om nie wapen lisensies uit te reik nie.

MJ ·

Nou is jong kinders sonder ‘n mamma en het ‘n pa wat hulle nooit ooit weer sal vertrou nie.. Hoe kan mens die ma van jou kinders skiet? Oor ‘n belediging… Genade tog!

Marinda ·

Word die Polisie nie getoets voor hulle in diens geneem word nie? En word hulle nie geleer om met hierdie tipe van situasies te deel nie? Ek vra net.

Santie ·

Stem vokome saam! Ek “vreeslik” van hierdie polisie beamptes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.