Ma desperaat vir antwoorde ná moord op seun

Richard Wood sou 28 geword het ’n maand nadat hy so erg aangerand is dat hy ’n week later beswyk het. Foto: Verskaf

Die ma van ʼn jong man van Pretoria-Noord wie se vriende hom in November verlede jaar na bewering so erg aangerand het dat hy ʼn week later dood is, sê sy wens die verhoor kan nou begin sodat sy antwoorde oor haar seun se dood kan kry.

Maar Marchand Bredell (32) en Christopher van der Westhuizen (23) se verhoor is Dinsdag weer in die streekhof in Pretoria-Noord uitgestel nadat Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het, glo weens botsende belange en omdat sy kliënt hom nie kan bekostig nie. Van der Westhuizen is drie weke gegun om ʼn nuwe regsverteenwoordiger te kry.

“Ek is kwaad vir hierdie kinders,” het ʼn bedroefde Maryna Wood Woensdagoggend aan Maroela Media gesê. Haar seun Richard Wood sou op 5 Desember 28 jaar oud geword het, maar sy lewe is kortgeknip tydens ʼn beweerde aanranding in Bosbokstraat, Theresapark, wat tien maande later steeds vir haar en haar man, Sias, geen sin maak nie.

Wood vertel haar seun en Van der Westhuizen het albei by dié se meisie-hulle in Pretoria-Noord loseer. “Hulle was vriende vandat Christopher se ma by my kom bly het toe hy nog ʼn baba was.”

Op Maandag 6 November het Van der Westhuizen, wat saam met Richard veselskabels vir Wi-Fi gelê het, vir Wood ʼn WhatsApp gestuur om te sê Richard het nie die Sondag huis toe gekom nie en ook nie die oggend vir werk opgedaag nie.

Wood se man, wat in Namibië was, het gesê sy moet haar nie bekommer oor hul seun nie. “Dis nou weer net kindernonsens, het hy gesê. En ons het niks daarvan gemaak nie.”

Twaalfuur die middag het Van der Westhuizen weer ʼn WhatsApp gestuur om te sê hy het al hul vriende gevra en niemand weet wat van Richard geword het nie.

“Ek weet nie hoekom nie, maar die Maandagaand was ek by die huis toe iets my laat besluit om na Christopher-hulle se huis te ry,” vertel Wood. “Daar was ʼn ou, ene Marchand, wat skielik begin praat het.

“Hy sê toe Richard het die laaste tyd baie selfmoordgedagtes gehad. Ek vra toe: ‘Waar pas jy in?’ Hy het geantwoord hy is vriende met Richard en Christopher.”

Wood wou by die twee weet wat gebeur het die laaste keer dat hulle haar seun gesien het. “Hulle het vertel hulle het die Sondagaand pool gespeel in Gerrit Maritzstraat toe iemand iets gesê het wat Richard ontstel het. Hy het geloop en Christopher en Marchand het aanhou speel.”

Nadat Wood haar seun as vermis by die polisie aangemeld en haar dogter sy foto op Facebook versprei het, het ene Roché haar gebel en vertel hy woon in ʼn kompleks in Theresapark. “Sy pa het hom die Sondagaand kom roep omdat hy blou en rooi ligte in die straat gesien het. Toe Roché buite kom, het hy net gesien hoe hulle iemand in ʼn ambulans laai met bloed wat by albei sy ore uitkom.”

Wood vertel omdat sy toe nog nie kon dink dat Van der Westhuizen na bewering betrokke was by die aanranding op haar seun nie, het sy hom gevra om te gaan kyk of hy in die Ga-Rankuwa-hospitaal is, waarheen Roché gesê het hy geneem is.

Marchand Bredell. Foto: Facebook

Toe Wood se oudste seun, Kevin, die Dinsdagoggend by Richard in die waakeenheid kom, was hy in ʼn koma nadat ʼn breinoperasie reeds op hom uitgevoer is om die drukking op sy brein te verlig.

Sy vertel die drukking het deur die loop van die week verminder, maar die volgende Maandagoggend omstreeks 05:00 het die hospitaal hulle laat kom omdat hulle nie sy bloeddruk onder beheer kon kry nie. Daardie oggend, 13 November, omstreeks 07:00 is Richard dood sonder dat hy ooit weer bygekom het.

“Albei [die beskuldigdes] was op Richard se begrafnis,” het ʼn emosionele Wood Woensdagoggend vertel. “Hulle het selfs albei aangebied om daarvoor te betaal, maar ons het gesê: ‘Nee, ons is reg.’”

Sy vertel die twee, wat uit is op borgtog van R5 000 elk, het intussen teen mekaar gedraai. “Hulle praat glad nie met mekaar nie. Ons weet hulle en Richard het stry gekry, maar ons weet nie waaroor nie.”

Die verhoor is uitgestel tot 18 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jakes ·

Baie ouens sit agter tralies omdat hulle alles met hul vuiste wil regmaak. En hierdie geval is waarskynlik een van sulkes. Spyt kom altyd te laat.

E.K. die eerste ·

Ai mevrou…dis reeds so harsteer en erg om te probeer vrede maak met ‘n kind se dood en dan moet jy nog probeer berusting kry as jy nie antwoorde het nie. Ek voel bitter jammer vir jul hele gesien. Mag die waarheid seëvier. Mag die skuldiges probeer eerbaar wees en met die waarheid uitkom. Ek dink aan julle almal en bid vir vrede en aanvaarding – glo my ek weet hoe moeilik dit is.

afgestomp vir gebooie ·

Met al die naby mense wat mekaar vermoor is dit duidelik dat die basiese gebooie nie eers iewers in julle koppe ronddraai nie. Hulle word van kleins af deur media geprogrameer om moord en woede uitbarstings normaal en deel is van daaglikse lewe en dat moord ‘n natuurlike uitvloeisel daarvan is-where your mind goes your body will follow

Niklaas ·

Brandewyn het nie brieke nie , hoor ons gereeld. Die waarheid sal nog uitkom , maar ek dink Bachus was teenwoordig. Daar was al honderde voorvalle waar onnodige stryery tydens groot kuier sessies , lei tot vuiste wat klap. Hierdie was sekerlik nie n roof/diefstal poging nie. Simpatie aan die naasbestaandes.

Santjie ·

Dit is baie jammer dat sulke dinge gebeur en ek is jammer om te se, maar met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie. Sterkte mevrou. Geregtigheid sal geskied.

marous ·

Gee vir hulle ‘n staatsprokureur , en weier enige verdere uitstel . Daar is ander mense wie gemergel word deur prokureurs en hulle kliente se speletjies oor geld en tyd wen .

Wickus de Bruin ·

Moenie moed verloor nie. Ons saak van gewapende roof sleur nou 6 jaar voort al is die beskuldigdes n week na die voorval gevang. Sterkte, ona bid dat jy krag sal ontvang van ons Hemelse Vader.

Gesiggie ·

Ek voel so jammer vir die Ma… want ek kan net dink hoe jy voel, almal soek antwoorde? jy wil weet wat regtig met jou seun gebeur het, en jy het al reg om te weet, jy sal nooit berusting vind tot die dag van die waarheid. Daar is soveel seer wat jy as n ouer moet verwerk, jy het jou kind verloor, en wie ook al verantwoordlik is, moet betaal vir die Moord wat gepleeg is…. as hul ware vriende was?? sou hul praat…. of maak hul praat.. sterkte aan die Familie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.