Ma, dogter roerend gegroet; verdagtes in hof

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

“Dit is so ondenkbaar om te dink dat hulle so skielik weg is. En nog op so ʼn onmenslike en wrede manier.”

Só het ds. Dopper Erasmus Dinsdag tydens die roudiens vir Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), gesê nadat hulle verlede Donderdag uit hul meenthuis in Welgelegen in Polokwane ontvoer en vermoor is. Die twee verdagtes wat Sondag in verband met hul moorde vasgetrek is, het vanoggend vlugtig in die landdroshof in Polokwane verskyn.

Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30) het in die hof verskyn op aanklag van moord en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Volgens brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sal die twee voorlopig in aanhouding bly totdat hulle weer op 25 September in die hof moet verskyn.

Lizette was die eienaar van Ocean Basket-restaurante op die dorp.

Die roudiens vir die ma en dogter is om 11:00 in die NG kerk Pietersburg-Noord in Polokwane gehou.

Die eerste deel van die roudiens is in Engels deur ds. Danie Putter gelei om die personeel van Ocean Basket wat ook ingeskakel het, te akkommodeer. Daarna het Erasmus, ’n jarelange vriend van Lizette en Hettie, die diens waargeneem. Rita Erasmus, ook ’n goeie vriendin van die oorledenes, het die orrel in die kerk gespeel.

“Ek het al baie roudienste in my lewe waargeneem, maar hierdie een is anders. Om vandag hierdie diens te lei, is vir my ’n moeilike taak,” het ds. Erasmus gesê. “Behalwe dat Lizette in die fleur van haar lewe op ’n wreedaardige manier van ons weggeneem is, was sy en Hettie so deel van ons almal se lewens.”

Quinton Deacon het in ʼn huldeblyk aan sy suster en ma gesê hoewel dit lyk asof die bose die goeie nou oorwin het, sal die lig die donker altyd aan die einde verdryf.

“Dit is wat my suster sou sê. Sy sou altyd vashou aan die goeie en die ligpunt in die lewe. En op ’n vreemde manier, hoe onnodig en sinneloos hulle moorde ook al was, sou sy nou weer eens dié standpunt bewys. Deur dit alles is dit goed om te sien hoeveel goeie mense saamstaan en handevat.”

Sy suster het ’n hart van goud gehad en altyd mense gehelp, het hy gesê. “Dit was wonderlik om in haar teenwoordigheid te wees. Sy was die definisie van ’n ‘vol lewe mens’.” Hy het sy ma as die onselfsugtigste mens wat hy ken, beskryf.

“My ma het geleef in liefde vir God en vir haar familie. Sy het geleef en gewerk vir ons. Sy het altyd gesê ons kinders is foutloos; ons kon niks verkeerd in haar oë doen nie.”

Hettie sou Novembermaand 80 jaar oud word (Foto: Facebook)

Volgens Quinton was sy ma ’n vegter en het sy tot haar dood toe aanhou veg. “Vandag, as ek met my ma moet gesels, sou ek vir haar sê dat sy haar doel vir die lewe voltooi het en dat sy kan ophou veg. Dit is nou tyd om te rus. Rus in vrede ma. Ek eer julle,” het hy sy huldeblyk afgesluit.

Quinton se vrou, Christa, het die bedankings gedoen. Hulle het verlede week per vliegtuig van die Kaap gereis nadat hulle die skoknuus ontvang het. ’n Familievriend het Lizette en Hettie se liggame die Vrydag namens die familie uitgeken.

Erasmus het vertel Lizette het vir 11 jaar in ’n woonstel agter in hul erf gebly.

“Sy het saam met ons ontbyt geëet en televisie gekyk. Sy het soos familie geword. Ons het Donderdagoggend nog koffie gedrink en ek het vir haar ’n drukkie gegee. Ek het nie besef dit sal die laaste keer wees wat ek haar sou sien nie.”

Hy het Lizette as ’n formidabele sakevrou, entoesiastiese sportvrou en ’n goeie mens beskryf. Hettie was ’n toonbeeld van hoe ’n Christenvrou moet wees. Sy sou in November 80 jaar oud geword het.

Lizette was lief vir sport (Foto: Facebook)

Erasmus het in sy boodskap klem gelê op God se liefde wat die naaste geen kwaad mag aandoen nie en hoe God hierdie liefde wil gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak.

“In hierdie stadium is daar baie min liefde en meer kwaad en haat in ons land, maar God wil met sy liefde deur ons die wêreld ’n beter plek maak. Hy wil selfs dalk hierdie hartseer verhaal gebruik om ’n draaipunt te maak in ons land en in mense se harte.”

“Voor ons haat, moet ons eerder bid vir die regering en dat geregtigheid sal geskied. God het vir ons die owerhede gegee om die wêreld meer leefbaar te maak en daarom is ons dankbaar dat die polisie so vinnig opgetree het om die skuldiges aan die pen te laat ry.” Erasmus het in sy slotgebed vir vertroosting vir Lizette en Hettie se familie en vriende gevra.

Thabo Mokone, LUR vir ekonomiese ontwikkeling in Limpopo, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir veiligheid, Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Thembi Nkadimeng, burgemeester van Polokwane, en John Mpe, burgemeester van die Capricorn-distriksmunisipaliteit in Polokwane, het Maandag Lizette se meenthuiskompleks, waar sy en haar ma deur die verdagtes oorval is, besoek. Hulle het ook hul medelye met die familie betoon. Van dié regeringsbeamptes het ook Dinsdag die roudiens bygewoon.

Lizette en haar ma se liggame is Donderdagaand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind nadat hulle laatmiddag ontvoer is nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie steekwonde gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hercules ·

geen woorde kan my hartseer beskryf nie!!

baie sterkte aan die familie en werknemers!!

*saluut* (veteraan moord & roof speurder)

Moedeloos ·

So onnodig. Ek weet jy mag nie haat nie maar ek weet nie of ek dit sal regkry as dit my ma en suster was nie. Mag jul in vrede rus ma en dogter.

Pieter ·

Die moordenaars gaan nou menisters pos kry die land maak my naar. Die dag is naby dan gaan die boere julle n ander ding wys

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.