Ma, dogters in Phoenix vermoor: Vermy gerugte, sê Cele

Jane Govender (heel regs) en haar dogters, Rackelle (links) en Denisha (middel) (Foto: Facebook)

Polisieminister Bheki Cele het lede van die gemeenskap gemaan om nie gerugte op sosiale media te versprei ná die moord op ʼn ma en haar twee dogters in Phoenix, Durban nie.

Cele het die gemeenskap ontmoedig om “gerugte te volg”, wat veral op sosiale media oor die moorde versprei word. “As jy die situasie verwar, verwar jy die ondersoek. Jy stuur onwaar inligting oor die storie en dan kan dit lei tot verwarring in die ondersoek,” het hy Sondagmiddag gesê tydens ʼn besoek aan Phoenix, ongeveer 30 km noord van Durban.

Dit volg ná Jane Govender (44) en haar dogters, Rackelle Govender (16) en Denisha Govindsamy (22) Vrydagoggend in hul woonstel in Longcroftrylaan vermoor is. Dit is nog nie duidelik hoe die drie persone dood is nie.

Sagren Govindsamy, wat vermoedelik met Jane getroud was en die pa is van een van die dogters, het op die liggame afgekom. ʼn Emosionele Govindsamy was ook Sondag in Phoenix en Cele het hom getroos.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 45-jarige verdagte, wat die gesin geken het, is Vrydag in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Verulam-landdroshof verskyn. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord.

“Sommige mense misbruik sosiale media vir hul eie gewin. Ander misdadigers probeer om valse inligting te versprei. Laat die polisie toe om hul werk te doen,” het Cele gesê. “Ek is seker dat ons binnekort sal kan verduidelik wat gebeur het. Intussen betuig ons ons meegevoel met die familie en die gemeenskap.”

Dit is die tweede gewelddadige misdaad in Phoenix waaroor daar nasionaal berig is. Die erg ontbinde liggaam van die negejarige Miguel Louw is vroeër vandeesmaand in die buurt gevind. Hy het in Julie naby sy skool in Sydenham verdwyn. Hy was laas gesien in die geselskap van ʼn man wat aan die gesin bekend is. Die verdagte sal in Oktober weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Abe ·

Dit blyk toe dat die aannames wat voortydig hier gemaak is oor die dood van die ma en twee dogters nie heeltemal korrek was nie. Sosiale media het ook maar (soos gewoonlik) erg misgetas.

So laag & gemeen ·

Dit is so laag en gemeen dat mense wat jy vertrou, vriendskap gebruik en jou 3 sterk vroue totaal weerloos teen sy aanslag laat. Jy verwag vriendskap / beskerming / ondersteuning van vriende soos jy uitdeel en die volgende oomblik word jy oorval. In beide gevalle genoem is dit iemand bekend aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.