Ma eis miljoene vir gestremde seun

Jonathan Foulds. Foto: Verskaf.

ʼn Ma van die Vrystaat eis R28 miljoen nadat haar kind as gevolg van komplikasies by sy geboorte breinskade sowel as ander probleme opgedoen het.

Chantel Foulds (33) het Dinsdagoggend aan Maroela Media vertel dat haar seun Jonathan in Desember 2008 in die Thusanong-distrikshospitaal in Odendaalsrus gebore is.

“Hulle [die personeel by Thusanong] het net geweier om my te help en gesê ek moet huis toe gaan. Ek het toe sélf na die Bongani-streekshospitaal in Welkom gegaan waar hulle my terugverwys het na Thusanong. Die personeel daar wou heeltyd gehad het ek moet knyp en ek kon nie meer nie en toe my seuntjie kom moes ek self na die kraamsaal stap,” vertel Foulds.

Sy het gesê Jonathan was te groot en moes eintlik met ʼn noodkeisiersnee gebore word, maar die personeel het haar net in kennis gestel die dokter wat die prosedure kan uitvoer is nie beskikbaar nie.

“Die geboorte het te lank geneem en die baba was potblou en het nie asemgehaal nie. Hulle het ook gesukkel om pypies te kry om die vog uit sy longe te suig.”

Personeel het glo ook tydens die bevalling baie hard op haar maag gedruk. “Dit het gelyk of hulle brood knie. Hulle het my regtig baie seer gemaak.”

Dokters het Jonathan in ʼn broeikas geplaas. Hy het geelsug gekry en hulle het vir Chantel gesê haar seun sal nie die einde van daardie week sien nie.

Jonathan (9) het permanente breinskade en begin volgens sy ma nou eers met behulp van ʼn loopraam loop. Hy sal ook nooit vir homself ʼn inkomste kan verdien nie. Sy ouers voer hom nog.

Jonathan Foulds. Foto: Verskaf.

“Hy moes verlede jaar April in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein ʼn operasie ondergaan om die spiere in sy bene ‘te sny’ om dit te verleng. Hy sal ook nooit kan skryf nie; die spiere in sy hande trek op ʼn snaakse wyse saam.”

Chantel vertel Jonathan beweeg rond in die huis en speel met sy speelgoed, maar dat hy nie saam met ander maatjies kan speel en doen wat hulle doen nie. “Hy gaan vir res van sy lewe sorg nodig hê. Hy kan ook nie duidelik praat nie. Ons wat hom ken verstaan hom, maar ander kan net woorde uitmaak.”

Volgens Foulds het sy die eis teen die Vrystaatse LUR van gesondheid ingestel om voorsiening te maak vir Jonathan se toekomstige mediese uitgawes soos moontlik ʼn nuwe rolstoel, bed of aanpassings wat gemaak kan word om sy lewe gemakliker te maak.

“Ek het nooit die moed gehad om die eis te in te stel nie, maar een van die mammas by die skool waar Jonathan nou is, wat deur dieselfde ding is, het my gehelp. Dis regtig net om na hom om te sien.”

Foulds word verteenwoordig deur Gary Austin van Gary Austin prokureursfirma. Dié firma spesialiseer in geboortebeserings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wurmpie ·

Ons ook jare gelede gestremde kind gehad. Ook as gevolg van hospitaal. Eis wat jy kan.

zeno ·

Dis reg, eis baie, dit sal jou seuntjie nie regmaak nie,maar daardie mense wat verantwoordelik was vir allles moet eintlik die eis uit hul sakke betaal. Ek het ook verpleeg en raak woedend as ek sulke goed lees.

SO ·

Vat vyf vir hierdie ma en haar seun. Ek hoop van harte haar eis slaag. Dis wonderlik om ‘n glimlag op hulle gesigte te sien. Dis hoe ‘n mens dit doen met ‘n positiewe uitkyk op die lewe.

Elvira ·

So jammer oor jou pragtige seuntjie. Eis so veel as wat jy kan want jou geval is nie die eerste waarvan ek lees nie. Die hospitaalpersoneel is te verdeksels LUI om hulle werk te doen en boonop voel hulle vere vir ons. Sterkte en alles van die beste.

Magaretha van heerden ·

So jammer vir jou en jou seuntjie. Kry asb ordentlike regshulp. Moet hulle nie self probeer aanvat nie.

Magaretha van heerden ·

Moenie sleg voel oor die eis nie. Jy het ook gely. Jou kind is ontneem van n normale lewe.

Magaretha van heerden ·

Moenie sleg voel oor die eis nie. Jy het ook gely. Jou kind is ontneem van n normale lewe.
Kry asb goeie regshulp

Magaretha van heerden ·

Kry asb goeie regshulp. moenie hulle alleen aanvat nie. Hulle is baie wise en sal alles doen om hulself te beskerm.

Ella ·

Dapper mamma, pragtige seuntjie wat as n gestremde deur die lewer moet gaan agv van onbevoegdheid en geen deernis.
Ek hoop jou eis slaag 100%.
Jammer die wat verantwoordelik is vir julle swaarkry word nie persoonlik verantwoordelik gehou nie.
Ek bewonder julle moed en hoop die toekoms gaan makliker wees met die geld wat julle toekom.
Julle is in my gebede.

Koos ·

Pak daai hospitaal. Selfs in privaathospitale gaan dit soms beroerd. Dokters kla altyd oor hulle duur professionele nalatigheidsversekering, as hulle nie so gereeld drooggemaak het nie was daar nie so baie suksesvolle eise nie en die versekering goedkoper!

Alida ·

Dit is baie baie tragies maar die kind is al 10 jaar oud. Kon hulle nie op 2 of 3 al agtergekom het daar is fout nie.

SNEL ·

Alida, seker is dit al 9 jaar later, maar hoe besig hou n baba mens nie, wat nog te praat van n gestremde kind en buiten dit, soms voel mens om eerder te los en nie n oorlog te begin nie, maar tot op n dag wat jy besef wat dit alles kos, hospitale, versorging en dat die kind nooit vir homself sal kan sorg en n inkomste kan verdien nie, en almal se stem is in jou ore van; moet dit nie net daar los nie en jy besef, genoeg is genoeg, hulle moet help aan hierdie situasie waar in hulle jou het en dan begin mens stappe vat. Net die mediese sy van die ding kos vragte geld. Hulle moet vorentoe n spesiale motor kry vir rolstoel en goed om net rond te beweeg. Dis maar n druppel in die emmer om op te noem. Die ma moet eis en eis wat sy kan. Dit breek n mens se hart om te dink jy verwag n gesonde baba en deur ander se ongevoeligheid en veral verpleegsters wat daar is om hulp te gee, word jou kind van n normale lewe beroof. Baie sterkte mamma, hoop jy kom reg met jou eis.

Wonder ·

Alida, hulle het nie nou eers agtergekom daar is fout nie (hy het by geboorte breinskade opgedoen). Hulle het wel nou eers besluit om ‘n eis in te dien, nadat iemand by die skool haar bygestaan het.

Johnna ·

Ek ken hierdie vrou en soos die foto wys is daar altyd n glimlag op haar gesig en haar seun ongeag waardeur hulle gaan.Sy verdien elke sent wat sy eis want dit is absolute nalatigheid wat veroorsaak het dat hulle in hierdie situasie is.Sterkte!!!

Amelia ·

Ek onthou die geval. Dit het voorblaaie gehaal. En baie het ek al gewonder hoekom en waarom? Maar ja, ek hoop sy kry dit reg. En sy moet genoeg vat. Haar kind is vir altyd ingekerker in n lewe van baie beperkings en eintlik is die ouers se lewens ook verwoes. Dink net hul kan nerens gaan nie want dit is te moeilik. Die kind gaan nog groter word en hul word ouer. Hoe gaan sy later sonder hulp dai kind optel, ronddra ens ens. Eis wat jy kan, jy gaan dit nog baie nodig he om vir versorging te betaal.

Anita ·

Mamma, jou seuntjie is pragtig! Laat hulle boet oor wat hulle gedoen het, sodat jy jou seuntjie so gemaklik moontlik kan onderhou!

Daniel ·

Hi my kind .pa sit en lees al die mense se boodskappe.ek is baie lief vir julle en ons bid saam met jou dat julle die saak sal wen .ons weet wat dit aan julle doen.lief jou baie my kinden gee vir jonsen en sy boetie n groot drukkie

Geregtigheid ·

Dis goed dat jy finansieel voorberei. Dit is jou volste reg om eis in te sit.

Kan jy nie ook eis dat die personeel betrokke hul werk verloor…nee hul lisensies verloor en NOOIT OOIT weer as dokters of verpleegsters kan werk nie?
Hulle is n gevaar en hoort nie te werk nie!

Baie sterkte vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.