Ma-en-dogter-band dié sakevroue se suksesresep

Trudi en Rina Kasselman. (Foto: Verskaf)

Daar word dikwels gesê dat mens sekere goed liefs nie met besigheid moet meng nie, en een daarvan is familie.

Vir Trudi en Rina Kasselman, eienaars van die skoonheidsreeks Ruah, en Sanel Roux en Marna Nel-Steyn, die duo agter die blommewinkel Petal’je, is moederskap juis een van die pilare van hulle suksesvolle sakeondernemings.

ʼn Skoon(heids)ma soos min

Ruah is meer as 12 jaar gelede op die perseel van die Bona Bona-wildreservaat in die hartjie van die Noordwes-provinsie begin en dit was volgens Trudi ʼn gedeelde droom van haar en haar skoonma, Rina.

Trudi, wat aktuariële wiskunde studeer het, en haar ingenieurman Danie, het destyds nes op dié reservaat kom skrop nadat hulle as jong paartjie vir twee jaar in Engeland gewerk het.

Danie het ook hier sy siviele-ingenieursfirma op die been gebring en bedryf en Trudi het voltyds by die Bona Bona-familiesakeonderneming, wat deur haar pa begin is, aangesluit.

Die paartjie vier vanjaar hulle 24ste huweliksherdenking en volgens Trudi het sy en “Ma Rina” van die begin af ʼn hegte band gehad. Soveel so dat Trudi en Danie in 2007 ʼn huis langs Bona Bona vir haar skoonouers ná hul aftrede as onderwysers ingerig het.

“Ek het ʼn groter plan gehad, ek wou al die ouers bymekaar en naby ons gehad het,” skerts Trudi.

Haar belangstelling in kruie en essensiële olies is reeds gedurende haar tyd in Engeland geprikkel en volgens Trudi het dit nie baie oortuiging van Rina geverg om te deel in haar droom vir ʼn skoonheidsreeks nie.

“Sy het vinnig my droom ook as haar eie omarm en was boonop nog nie reg om heeltemal af te tree nie,” voeg Trudi laggend by.

Die res is geskiedenis en 12 jaar later pryk die Ruah-handelsmerk op rome, salwe, sout, heuning, kruie en selfs handsakke.

Ruah beteken “asem” en hul slagspreuk lui “wees gekoester” – nes dié skoonma en skoondogter volgens Rina mekaar laat voel.

Tudi en Rina het nog altyd ‘n hegte band gehad. (Foto: Verskaf)

“Ons verskil as individue, maar in ons andersheid pas ons tog so mooi by mekaar,” verduidelik sy.

“Trudi se sterkpunte lê in die bemarking en sy sal help met die samestellings van die produkte, waar ek nou weer by die fabriek betrokke is. Ons praat met mekaar en sien mekaar se sienings in, so dit is vir ons baie maklik om saam te werk.”

Kommunikasie en wedersydse respek is vir beide vroue belangrik om hul sake en persoonlike verhoudings te balanseer. Rina voeg by dat veral skoonma’s hul skoondogters die nodige ruimte moet bied om hulle eie voete binne huisgesinne te vind.

Trudi sê haar skoonma se roetine, dissipline en standvastigheid is merkwaardig, waar Rina haar skoondogter se sagter geaardheid, vriendelikheid en kreatiwiteit bewonder.

Wanneer daar oor die definisie van moederskap gevra word, duik woorde soos beskerming, geliefdheid en emosionele ondersteuning by albei vroue op.

“Ons is baie geseënd om die tipe verhouding te hê wat soomloos tussen familie en sake kan vloei. Ek sou nie hierdie sonder Ma Rina kon doen nie.’”

Ma en dogter se liefde blom in besigheid

Die saadjie vir Petal’je is volgens Sanel, ʼn binnenshuise versierder, reeds jare terug in haar hart geplant, maar dit sou nie sonder die hulp van haar ma, Marna, behoorlik geblom het nie.

ʼn Oop winkel by ʼn nuut oorgedoende winkelsentrum in Queenswood, Pretoria, het haar in 2019 genoop om haar blommewinkeldroom in ʼn kwessie van vier maande ʼn werklikheid te maak.

“As ʼn mens so iets aandurf wil jy dit doen met iemand wat jy vertrou en op wie jy staat kan maak en vir my is daardie persoon my ma. Ons lewensuitkyk en hoe ons uitdagings hanteer is baie dieselfde en ek dink dit spoel oor na hoe ons die besigheid bestuur,” verduidelik Sanel.

Sanel Roux en Marna Nel-Steyn. (Foto: Verskaf)

Petal’je het sy winkeldeure gedurende die Covid-19-pandemie gesluit en volstoom aanlyn sake begin dryf.

Marna, ʼn maatskaplike werker en terapeut by ʼn skool in Queenswood, en Sanel verdeel dus hul tyd tussen die blommewinkel en hul onderskeie beroepe.

Nes Trudi en Rina, glo Sanel en Marna in eerlike, deurlopende kommunikasie om hulle onderneming suksesvol te dryf.

“Ek dink as elkeen se verantwoordelikhede en pligte van die begin af duidelik uiteengesit word, skakel mens baie onduidelikhede en konflik uit. Ons glo ook dat mens nie weke lank oor iets moet tob nie, maar dadelik sê as iets jou pla.”

Sanel sê sy kyk op na haar ma se dryfkrag. “Sy is ʼn regte go-getter en laat nie sommer toe dat iets haar onderkry nie. As dit doen, praat sy daaroor en skud dit af.”

Sy en haar man, Pieter, glo dat sekuriteit en veiligheid die kernboublokke van ouerskap is en dat daar “min dinge is wat nie met liefde reggestel kan word nie”.

“My hoop vir ma’s hierdie Moedersdag is dat ons erkenning aan mekaar as ouers se uitdagings sal gee. Nie almal het ongelooflike mans, soet kinders of goeie ondersteuningsnetwerke nie. Ons as ma’s moet mekaar ook respekteer, opbou en raaksien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.