Ma en dogter sterf ná kankerstryd: ‘Hulle was só sterk’

Erica en Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Die familie van Alexis Rhoode (8) is in rou gedompel nadat hoërisiko-fasevier-neuroblastoomkanker Woensdagoggend haar lewe in die Rooikruis-kinderhospitaal in die Wes-Kaap geëis het.

Haar ma, Erica, is op 8 Desember in die Groote Schuur-hospitaal in die Wes-Kaap oorlede aan borskanker. Sy is in 2017 daarmee gediagnoseer, twee jaar nadat haar laatlammetjie met hoërisiko-fasevier-neuroblastoomkanker gediagnoseer is.

“Hulle was albei só sterk en het weer en weer bewys dat jy enigiets kan oorkom as jy wil,” sê Jeandré Easton, Alexis se oudste suster.

“My ma en my sussie was ʼn inspirasie vir talle mense, oud en jonk. Hulle het soveel mense se lewens aangeraak en ʼn positiewe gees oral nagelaat.”

Volgens Easton is Alexis, wat verlede jaar in dieselfde tyd as haar ma se dood weer ʼn terugslag gehad het, op 26 Maart in die hospitaal opgeneem. “Haar toestand het verswak oor die laaste paar weke,” sê Easton.

Erica en Alexis Rhoode. (Foto: Facebook via Alexis HOPE Foundation)

Sy voeg by die familie sukkel om kop bo water te hou sedert Erica se dood. “Dit was, en is steeds, ʼn besonderse moeilike tyd. Ons almal het ingespring en gehelp met Alexis. Ons het almal sterk gebly vir haar sodat sy teen die kanker kon baklei. My jonger suster Claudia het werklik ingetree en baie goed na haar omgesien die afgelope twee maande.”

Alexis het in Februarie 2015 begin kla van pyn in haar regterbeen en twee dae later het Erica ʼn knop op Alexis se maag opgelet. Ná talle toetse is sy uiteindelik met kanker gediagnoseer en het dadelik met chemoterapiebehandeling begin. Sy was drie jaar en agt maande oud ten tyde van dié skokdiagnose.

In ʼn vorige onderhoud met Maroela Media het Easton gesê haar ma is die sterkste vrou wat sy ken. “Om dae, nagte en weke langs jou kind se hospitaalbed te waak en te bid vir wonderwerke, en om nie net jou eie kanker te beveg nie, maar ook saam met jou kind haar kanker te beveg, wil gedoen wees. Niks is vir ons ma onmoontlik nie en sy is werklik ons heldin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokkie ·

Ai, dis so verskriklik hartseer. My innige simpatie aan die familie. Mag die Here julle versterk en vertroos in hierdie tyd van verlies en hartseer.

Jakes ·

dit is hartverskeurend om sulke berigte te lees. Beide die ma en dogter jug in die hemel want hulle ken nie meer pyn, hartseer en lyding nie. Net blydskap.

Genis ·

Dis regtig hartverskerend! So moet mens elke dag jou seeninge tel… Voorspoed vir die familie, mag die liewe Heer jul styf vashou in die tyd!

Gawie ·

Sterkte aan die familie. Mag die Here julle vertroosting wees in hierdie tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.