Ma en dogter verdwyn saam

Karla Hazel.

JONGSTE: Karla Hazel en Kayla is veilig gevind in Salt Lake.

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn ma en dogter van Port Elizabeth wat Donderdagaand saam vermis geraak het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het Maandag gesê vermistepersoonsake is vir Karla Hazel (31) en haar dogter, Kayla (8), by die Kabegapark-polisiestasie aanhangig gemaak.

Cindy Vermeulen, Kayla se stiefma, het Maandag aan Maroela Media gesê die gesin is rasend van bekommernis oor Kayla se welstand, veral omdat sy vandag verjaar.

“Karla en Kayla bly by Karla se ma, Karin, in Ferguson naby Sidwell. Karin het hulle Donderdag by die Green Acres-winkelsentrum gaan aflaai waar sy inkopies gaan doen het,” het Vermeulen gesê.

Volgens Vermeulen is Hazel en Kayla daarna na Hazel se suster, vir wie hulle omstreeks 20:15 by haar huis in Sherwood gaan kuier het.

Kayla Hazel

Haar suster woon glo oorkant Jade’s Sport Bar waar die twee vir die laaste keer gesien is toe hulle glo saam in ʼn kennis van Hazel se motor geklim het.

“Volgens die eienaar van die kuierplek het Hazel saam met Kayla daar ingekom en is sy na die toilet. Sy het een drankie gedrink voor sy ʼn vriend, glo slegs bekend as Mike, gebel het om haar te kom haal. Hulle het omstreeks 22:20 die kuierplek verlaat,” het Naidu in ʼn persverklaring gesê. “Daar was sedertdien geen kommunikasie tussen Hazel en haar familielede nie.”

Volgens Vermeulen het Hazel buiten die inkopies wat sy gehad het, geen bagasie vir haar of Kayla by haar huis gepak nie. Haar foon is glo sporadies aan en af, maar niemand antwoord die foon as hulle haar bel nie.

Enigiemand wat weet waar Hazel en Kayla hulle mag bevind of hulle sien, word versoek om ao. Dirkie Greeff by 084 559 0310 of 041 397 6802 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.