Ma en dogter vermoor: Nog ʼn verdagte vas

Polokwane moorde Hettie

Ma en dogter se liggame is in hul motor buite Polokwane gevind. (SA Polisie)

ʼn Tweede verdagte is Sondagoggend in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn ma en dogter van Polokwane in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die tweede verdagte, ʼn 30-jarige man, is omstreeks 08:00 in Polokwane in hegtenis geneem. Die eerste verdagte, ʼn 35-jarige man van Zimbabwe, is in die vroeë oggendure in Mookgophong (Naboomspruit) in hegtenis geneem.

“Die verdagtes sal Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en huisroof. Die 35-jarige verdagte sal ook op aanklagte wat verband hou met oortredings van die Immigrasiewet verskyn aangesien hy glo onwettig in die land is.”

Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (in haar laat 70’s), se liggame is Donderdagaand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind nadat hulle laatmiddag ontvoer is nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie steekwonde gehad.

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Die spesiale ondersoekspan wat na die moord op die been gebring is, het reeds nog verdagtes geïdentifiseer en nog inhegtenisnemings word binnekort verwag, het Mojapelo gesê.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom.

ʼn Vriend van die vroue is vroegaand na hul huis en was geskok toe hy bloedspore in die huis gekry het. Die dogter en ma was ook skoonveld. Die buurtwag en polisie is ontbied.

Lizette was die eienaar van die Ocean Basket-restaurante in die Mall of the North- en Savannah-winkelsentrum in Polokwane.

Honderde mense het Vrydagmiddag na die Mall of the North opgeruk. Mense wat aan die vreedsame optog deelgeneem het, het bosse blomme voor Ocean Basket neergesit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

twaalfboor ·

Sedert wanneer is daar onwettige immigrante in hierdie land van ons? Die grense is dan wawyd oop gegooi sedert 1994.

Pieter ·

Goeie nuus en speurwerk. Wat is die motief om hulle te vermoor? Lyk soos ‘n huurmoord, Zimbabwe burger kry hulle in Naboomspruit.

Johan ·

Jy kan nie as n inwoner van Afrika onwettig in Suid-Afrika wees nie want hulle is mos die ANC se broers en susters en hoeka ook dieselfde van nl. Corruption.

Danie ·

Almal is wettig in SA ja maar sit jy net ‘n voet skeef in enige ander land en hulle gooi die tronksleutel weg, as jy nog lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.