Ma en kêrel in hof vir moord op kleuter

Argieffoto: Pixabay

ʼn 17-jarige ma sal na verwagting Woensdag in die Protea-landdroshof in Soweto saam met haar 30-jarige kêrel verskyn op die moord van haar tweejarige dogter.

Hulle is Dinsdag in hegtenis geneem vir ʼn voorval wat op 15 November in Diepsloot plaasgevind het waar die dogter verkrag en aangerand is. Hierdie kleuter het vier dae daarna aan haar beserings beswyk.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê lede van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) is op 16 November deur ʼn mediese praktisyn van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto ontbied. Die praktisyn het hulle in kennis gestel van die verkragting en aanranding van die kleuter, wat die vorige aand na die hospitaal vir mediese behandeling gebring is.

“ʼn Dringende forensiese ondersoek is van stapel gestuur en alle relevante forensiese bewyse is ingesamel vir verwerking deur die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium,” sê Peters.

Die kind se ma het die voorval eers die volgende dag by die polisie aangemeld.

“Dit het die polisie gehelp om belangrike inligting te bekom om ʼn onweerlegbare saak saam te stel om inhegtenisnemings te verseker.”

Tydens die voorlopige ondersoek kon die polisie vasstel dat die ma glo haar dogter op 15 November in die sorg van haar kêrel vir sowat twee uur gelos het.

“Sy het die aand omstreeks 20:30 teruggekeer en die kêrel was glo weg. Die kleuter se pa was wel by die huis. Die kleuter was aan die slaap. Die ma het kwansuis gaan slaap sonder om die kind te steur.”

Volgens die ma het sy in die middel van die nag wakker geword om na die kleuter te gaan kyk. Sy het bevind dat haar kind ernstige beserings aan haar gesig gehad het.

“Sy het haar kind na die hospitaal geneem vir mediese hulp. Die uitslag van die mediese ondersoek het bevind dat die kind verkrag is en die dokter het die polisie ontbied.”

Ná die kleuter se dood op 19 November is die aanvanklike saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer na ʼn moordsaak verander.

“Die polisie het rede om te glo dat die kleuter vroeër deur haar stiefpa mishandel is, en dat dit nie aangemeld is nie. Dit is die grondslag van die inhegtenisneming van die tienerma wat in hierdie geval die voorval eers twee dae later by die polisie aangemeld het.”

Ondersoeke gaan voort hangende die uitslag van die forensiese ontleding, aangesien die polisie ʼn waterdigte saak wil opbou wat nie in die hof betwis kan word nie en regspleging sal dien.

Genl.maj. Patricia Rampota, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die inhegtenisnemings verwelkom en moedig die ondersoekspan om te verseker dat geregtigheid sal geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Byekonfyt ·

Kinders wat kinders kry! ‘n Gesin is die kleinste ‘sel’ van ‘n samelewing. As dit vrot dan vrot die samelewing en die hele land. Dis waar die kettingreaksie begin.

Sêmanet ·

Die opskrif behoort te lees: Ma en kêrel in TRONK vir moord op kleuter. Dis beslis seker nie die eerste keer nie.

Casper ·

Hulle mag nooit weer die sin sien opkom nie.Geen parool nie.Vonisse moet nie gelyklopend uitgedien word nie.’n Pedofiel kan nooit gerehabiliteer word nie.

Monique ·

Hoe gaan die Ma bed toe sonder om seker te maak haar kind is ok nie!
My kind is my NOMMER EEN prioriteit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.