Ma ernstig beseer in tref-en-trap op vakansie

Charlene Drotsky (Foto: Facebook)

Wat veronderstel was om ’n sorgelose Kaapse vakansie te wees, het in ’n maandlange hospitaalopname ontaard toe ’n ma van Noordwes verlede maand kritiek in ’n tref-en-trap-ongeluk beseer is.

Charlene Drotsky (34) van Klerksdorp is op 2 April deur ’n man omgery wat haar ná ’n kuier saam met vriende by die huis gaan aflaai het. Die man is daardie aand met sy motor bo-oor Drotsky se middellyf voordat hy op die vlug geslaan en haar vir dood agtergelaat het.

Zane Groenewald, bemarkingsbestuurder van BackaBuddy, sê Drotsky het saam met haar verloofde Corné Viljoen (39) in Malmesbury vakansie gehou. Drotsky, ʼn ma van twee, het die aand van die ongeluk saam met vriende in die omgewing van Malmesbury gekuier.

’n Man met ’n bakkie het aangebied om vir Drotsky en haar vriende ’n saamrygeleentheid huis toe te gee. Drotsky was die laaste een om daardie aand afgelaai te word.

By die huis gekom, het Drotsky uit die bakkie probeer klim, toe die bestuurder van die bakkie onverwags agteruitry en Drotsky se linkerbeen onder die voorwiel van die voertuig beland.

Drotsky het van pyn uitgeroep, maar in plaas daarvan om stil te hou, het die paniekbevange bestuurder probeer wegkom en met die voor- en agterband van die bakkie oor Charlene se middellyf gery.

Charlene Drotsky (Foto: Facebook)

Viljoen het sy verloofde hoor skree, haar te hulp gesnel en die nooddiens ontbied. Die bestuurder van die bakkie was egter nêrens te vind nie.

“Ek sien nog in my geestesoog hoe die bakkie oor my verloofde ry terwyl ek magteloos toekyk,” verduidelik Viljoen oor daardie aand op die skarefinansieringswebtuiste BackaBuddy.

Drotsky het verskeie beserings tydens die voorval opgedoen, waaronder ’n gebreekte skapula, bekken en verskeie gebreekte ribbes. Sy het ook inwendige bloeding opgedoen wat daartoe gelei het dat sy septisemie opgedoen het en het bloeding op haar longe gehad wat gedreineer moes word.

As gevolg van die skade aan Charlene se pelvis het sy ook die funksie van haar linkerbeen verloor.

Sy word die afgelope maand in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad behandel.

Drotsky, wat nie ’n mediese fonds het nie, se familie doen nou alles in hul vermoë om geld in te samel sodat sy in ’n private hospitaal in Klerksdorp opgeneem kan word en nader aan haar kinders behandel kan word.

“Charlene is ’n wonderlike ma en ’n goedhartige mens wat nie verdien het wat met haar gebeur het nie. Hierdie voorval het ons gesin verwoes, veral Charlene se twee seuns, Cayden (13) en Calden (9), wat nie oortuig was dat sy die beproewing sou oorleef nie. Hulle verstaan ​​nie wat gebeur het nie en huil daagliks vir haar om huis toe te kom,” sê Drotsky se suster, Marcelle.

’n Saak is ná die voorval by die Malmesbury-polisie aanhangig gemaak.

Klik hier vir meer inligting oor Drotsky se toestand en die fondsinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

twaalfboor ·

Een vraag. Waar was haar verloofde dat ñ vreemdeling haar moes huis toe bring?Veral as hulle saam op vakansie was.

007 ·

Dalk het sy maar bietjie later gekuier, of hy moes na haar kinders kyk?

Christian ·

@ Twaalfboor, gaan jy beter slaap as jy ‘n antwoord kry op jou vraag? Gaan die antwoord ‘n verskil maak aan haar situasie? Die mensdom is nou geprogrammeer om sensasie aan te jaag. Sterkte aan Charlene en haar familiie

Julius ·

Niks in die berig maak sin nie. Te veel onduidelikhede met baie vrae.

JohanR ·

Ja nee die storie gel nie mooi nie. Het niemand di man met die bakkie geken nie? Was die man by die partytjie of het hy net verby gery, en geoffer om mense huis toe te vat? Iemand MOET weet wie hy is?

Lillian ·

Hoekom het sy nie haar verloofde gebel om haar te kom haal eerder as om saam met ‘n vreemde man in die kar te klim nie? En hoekom was Viljoen nie saam met haar aan’t kuier nie? Dis hopeloos te gevaarlik deesdae om so vroualleen te kuier.

Gogga ·

Is julle nou ernstig? Hoe vra jy sulke vrae wat in elk geval nie saak maak nie? Wat daarvan as sy saam haar vriende gekuier het, en haar verloofde was nie by nie? Ek is oortuig daarvan dat n volwasse dame van haar ouderdom in staat is daartoe om self besluite te kan maak. Volgens haar verloofde (uit die berig) is sy ‘n fantastiese mens. Ek glo nie sy het opsetlik moeilikheid gaan soek nie. EN… Miskien was die man wat oor haar gery het dalk net regtig ‘n goeie mens wat dalk net regtig ‘n goeie daad probeer doen het, ‘n daad wat hom nou aan die kortste ent gaan laat ry.
Hoe dit ookal sy, my simpatie is beide vir die dame wat beseer is sowel as die bakkie bestuurder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.