Ma gevonnis ná moord op kinders

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

’n 34-jarige vrou van die Dimbaza in die Oos-Kaap is Donderdag deur die hooggeregshof tot 22 jaar en ses maande tronkstraf vir die moord op haar twee jong kinders gevonnis.

Busisiwe Labi het haar seuns, Othandwayo (1) en Amyoli (6), in September verlede jaar met plastieksakke en kussings versmoor.

Labi, wat op 22 Julie vanjaar skuldig bevind is, is 22 jaar en ses maande vir elke moord opgelê, maar sal dié vonnisse gelyktydig uitdien.

Volgens Anelisa Ngcakani, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in dié provinsie, het ’n psigo-regsverslag onthul dat Labi homoseksueel is en dat hoewel sy haar kinders liefgehad het, sy nie ʼn ma wou wees nie.

“Luidens die verslag het Labi heteroseksuele verhoudings met die pa’s van die kinders gehad om haar gesin te paai aangesien hulle nie haar seksuele oriëntasie goedgekeur het nie en omdat haar ma kleinkinders wou hê.”

Labi het glo ook die moorde gepleeg om haar ma, wat na aan die kinders was, seer te maak.

“Die hof het aangehoor dat Labi ʼn konflikverhouding met haar ma gehad het aangesien dié eers die identiteit van Labi se pa op hoërskool aan haar bekendgemaak het. Volgens die verslag was Labi kwaad vir haar ma en het sy verraai gevoel.

“Sy het ʼn dag voor die moorde ʼn argument met haar ma gehad nadat haar ma glo geld, wat vir huishoudelike items bedoel was, aan Labi se jonger broer gegee het.

“Labi het gevoel dat haar ma haar broer bo haar verkies.”

Volgens Ngcakani het Labi die kinders vooraf ingelig dat sy hulle gaan doodmaak. Hulle was alleen by die huis.

“Die oudste seun het by haar gepleit om dit nie te doen nie, maar dit het op dowe ore geval.

“Sy het saam met die seuns gebid en hulle een vir een versmoor. Na afloop van die moorde het sy hulle liggame netjies op die bed neergelê.”

Labi het haar 42-jarige suster gebel en van die voorval ingelig. Die saak is by die polisie aangemeld en die lyke is in die gesin se huis gevind.

Hoewel regter Belinda Hartle met adv. Deolin Willemse, staatsaanklaer, saamgestem het dat die misdrywe ysingwekkend en afgryslik was en dat versagting ter wille van genade verkeerd sal wees, daar dwingende omstandighede was om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslank af te wyk.

“Een van dié redes was dat ondanks die feit dat die moorde vooraf beplan was, Labi van die begin af haar volle samewerking gegee het en ook ’n volledige bekentenis afgelê het.”

Die waarnemende direkteur van openbare vervolging, Livingstone Sakata, sê die misdrywe is lewensverraad aangesien die ma haar eie kinders vermoor het.

“Geregtigheid moet geskied.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Hoe doen iemand dit aan hulle eie kind/kinders? Kan iemand so harteloos wees? Al neem mens alles in ag jy doen nie dit nie!

Tiptol ·

So, jy kan ‘n moord(e) beplan, solank jy van die begin af saam met die polisie werk, kry jy ‘n verligte straf. Belaglik. Moord op kinders moet lewenslank wees. Punt.

Kathleen ·

so lief het sy hulle gehad dat sy hulle moes doodmaak om haar ma ‘n punt te bewys ? agge nee Labi !

Anoniem ·

As sy nie ‘n ma wou wees nie hoekom doen sy dit dan! Hoekom het sy dan nie die kinders opgegee vir aanneming nie, dan is dit nog by meer as 1 man ook. Moenie jou ouers en familie die skuld gee vir jou optrede en gedrag nie. Jy het jouself te blameer want nou weet die hele wêreld dit nie net jou ouers/familie voor wie se deur jy die skuld wil pak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.