Ma gewond toe taxibestuurder glo losbrand

‘n Omstander hou die vuurwapen vas wat glo by ‘n taxibestuurder afgeneem is. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

ʼn Skare nuuskierige verbygangers wat in Mamelodi, in die ooste van Pretoria, by ʼn ongelukstoneel saamgedrom het, het laat spaander toe skote begin het klap het ná ʼn onderonsie tussen taxibestuurders en van die inwoners.

ʼn Voertuig wat skoolkinders vervoer, was kort tevore betrokke in ʼn ongeluk met ʼn minibus in Solomon Mahlangurylaan. ʼn Woordewisseling tussen die bestuurders van die twee voertuie en inwoners het kort daarna uitgebreek. Nóg ʼn taxibestuurder het op die toneel stilgehou, ʼn vuurwapen uitgepluk en sy kollega te hulp gesnel.

Die groep het handgemeen geraak en skote het begin klap. Die taxibestuurder het op die vlug geslaan ná sy wapen afgeneem is.

Zandile Mthimunye het haar intussen na die toneel gehaas om haar kinders – wat in die ongeluk betrokke was – te gaan haal. Mthimunye is ook die woordvoerder van die Tshwane-distrikshospitaal.

“Ek was geweldig bekommerd oor my kinders en hier staan skares mans en baklei. Tussendeur die bakleiery en die skote wat klap, het ek gevoel iets tref my in die ribbes. Toe ek agterkom ek bloei, het ek besef een van die koeëls moes my getref het,” het Mthimunye gesê.

Die koeël het haar net skrams getref.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die saak word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tino ·

Die anargie stoot voor!

Die Taxi’s in Pretoria moet ook soos in Soweto opgeskort word. Die wat betrokke was moet geskut word, waar is die polisie in alles?

Trol ·

Hoekom moet daardie taxies al toetend deur die strate ry met respek vir niks en niemand nie? Dit is n oortreding van die wet tog doen polisie of verkeerspolisie niks om die oortreding te stop nie. Die harde musiek wat uit daardie taxies kom is ook n oortreding van die wet. Tree op. Die wette moet deur almal nagekom word.

Heinrich ·

Soos ESKOM and SAA het die regering ook heeltemal beheer verloor oor die taxi-industrie en is hulle ‘n mafia op hulle eie. Ek kan in my lewe nie verstaan dat wanneer taxis geskut word weens wetsoortreding en hulle dan staak daaroor (lees hier: verder soos mafia bullebakke optree) en die polisie dan ingee nie. Ek kan nie verstaan dat die verkeerspolisie handjies gevou sit met die taxis se daaglikse chaos tydens spitsverkeer nie maar eerder sit en mense vang wat te vinnig ry. Hulle sê mos ‘Speed kills’ op borde oral langs die paaie; ek sal graag statistieke wil sien wie “kills more”, spoed of taxis. Die hoeveelheid ongelukke wat deur hulle veroorsaak word sal ook glad nie deur die versekeringsmaatskappye geopenbaar word nie want dit sal mos weer diskriminasie wees.

Superfilly ·

Moenie worry nie, die taxi drywer het klaar weer n ander vuurwapen!

Heinrich ·

Die regering het lankal beheer verloor oor die taxi industrie. In my lewe het ek nog nooit gesien dat taxis geskut kan word omdat verskeie wette oortree is nie, die taxi bestuurders en eienaars dan kan staak (lees hier nog meer soos mafia bullebakke tekere gaan en verder die wet oortree) en dan gee die owerhede maar in en gee die taxis terug nie. Die verkeerspolisie het lankal opgegee met die taxis en vang maar eerder mense wat te vinnig ry terwyl die taxis openlik lewensgevaarlik ry tydens spitstye on die stede. Hulle het mos “Speed Kills” bordjies op die paaie, ek sal bitter graag statistiek wil sien oor wie die meeste ‘kills’, taxis of spoed (en moenie vir my sê dis spoed wanneer taxis te vinnig ry ry, dis nog steeds die taxi). Ek is seker dat versekeringsmaatskappye hierdie inligting het maar nie mag vrystel nie omdat dit diskriminerend sal wees. Hierdie is maar ook net een van die daaglikse slagvelde waarop almalo maar net moet sug omdat ‘dit is soos dit is’, niemand het die rugstring om hierdie mafia aan te vat nie en so op te staan vir die lewens van dié wat nie ander vervoer kan bekostig nie. In elk geval boelie die taxi industrie enige nuwe vervoerstelsels uit hulle roetes uit met geweld, maar het geen gevolge nie.

Annamarie Olivier ·

Wilde Weste hierdie. Geen beheer oor misdaad, korrupsie en geen respek vir landswette.

Schalla ·

Ek ry elke dag werk toe in Simon Vermooten Weg. Die absolute minagting van verkeersreëls en -wette sowel as die veilgheid van hul passasiers en mede-padgebruikers deur hierdie taxis gaan die verstand te bowe.

Ek wonder of enigeen van hulle weet wat mens eintlik by ‘n rooi lig veronderstel is om te doen. Ek sweer hulle dink dit beteken “rev hom in die rooi!!”

Ek wil vir my ‘n dash cam kry want ek sal so lekker kry as ek beeldmateriaal sal kan verskaf om iemand wat onskuldig in ‘n ongeluk met hulle betrokke is te kan help om die padvarke aan die pen te laat ry (as dit enigsins sal help). Vet weet dis net ‘n kwessie van tyd voor ek OF ‘n getuie van ‘n ongeluk OF self in ‘n ongeluk met een van hulle is.

Jerry ·

Hierdie tipe insidente kan begin om soos n veldbrand te versprei wat dui op die begin van groter onverdraagsaamheid gepaardgaande met gewapende geweldadigheid teenoor mekaar. So kort voor die verkiesing, net soos tannie jesse, verdra politieke opgesweeptes ook geen onreg nie! As witmense gereken het hulle is gatvol, hou gerus dop hoe gatvol is alle Suid Afrikaners!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.