Ma glo voor vyfjarige vermoor; streng borgtog

Argieffoto

ʼn 31-jarige man wat van die moord op sy meisie beskuldig word, is Maandag in die Bafokeng-landdroshof in Rustenburg, Noordwes vrygelaat op borgtog met streng voorwaardes.

Thabo Moabi is vrygelaat op borgtog van R6 000 ná landdros Andrew Mmokwa gesê het daar is nie oortuigende redes waarom borgtog nie toegestaan moet word nie. Die hof het beveel dat hy nie kontak mag maak met sy vyfjarige dogter, wat vermoedelik ʼn ooggetuie was tydens die moord nie.

Die hof het ook beveel dat Moabi nie mag inmeng met die polisie se ondersoek nie en dat hy finansieel steeds ʼn bydrae moet lewer tot die versorging van sy dogter. Sy bly tans by haar ma se ouers in Phokeng. Moabi moet ook elke Maandag en Vrydag by die Phokeng-polisiestasie aanmeld.

“Die hof kan nie gyselaar gehou word deur lede van die gemeenskap wat dreig om reg in eie hande te neem indien die aansoeker op borgtog vrygelaat sou word nie. Die ondersoekbeampte kon al die bewyse ingesamel het terwyl die aansoeker in aanhouding was,” het Mmokwa gesê.

Dit volg ná die staat aangevoer het lede van die gemeenskap is só bang vir Moabi dat twee getuies aan die polisie gesê het hulle sal slegs ʼn beëdigde verklaring aflê as sy borgtog afgekeur word.

Die hof het ʼn waarskuwing aan die gemeenskap uitgereik om sy besluit oor borgtog te respekteer en nie die reg in eie hande te neem nie.

Maroela Media het vroeër berig Moabi word daarvan beskuldig dat hy sy meisie, Segametsi Molefe (30), op 27 Maart in Tlaseng buite Rustenburg vermoor het. Moabi het tydens sy aansoek om borgtog gesê hy het haar geklap ná sy ʼn telefoonboodskap ontvang en ʼn manspersoon wou weet of sy veilig by die huis aangekom het en waarin hy sy liefde vir haar verklaar.

“My hart het gebreek om te hoor iemand anders verklaar hul liefde vir my meisie. Ek het haar geklap en sy het ʼn mes te voorskyn gebring. Ek het haar teen ʼn muur gestamp en sy het geval,” het hy gesê.

Hy het aan die hof gesê hy het omstreeks 22:00 by die huis aangekom en sy dogter was alleen by die huis. Sy het op die rusbank gelê en slaap. Hy ontken dat die kind die struweling tussen hom en Segametsi gesien het wat tot haar dood gelei het.

Mmokwa het aan Moabi gesê daar is ʼn moontlikheid dat die meisie ʼn ooggetuie was. Die bedrag vir sy borgtog is gelykstaande aan een maand se salaris wat hy by ʼn plaaslike myn verdien as ingenieursassistent.

Die saak is tot 21 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

??? ·

As moord nie genoeg rede is om nie borg te kry nie…dan weet ek nie wat sal rede genoeg wees nie…

marous ·

Maar in sake waar wittes verolg word en die gemeenskap dreig , is die howe te gewillig om gyselaar gehou te word !

Attie. ·

Vermoor liewers iemand in die teenwoordigheid van ‘n vyfjarige maar moet tog nooit iemand in ‘n houtkas probeer sit nie.

jakes ·

Ek sidder om te dink hoe n ” landros” borg kan toe staan vir n moordverdagte aangesien dit n bylae 5 misdryf is. Daar moet buitengewone redes wees hoekom bortog toegestaan moet word. Maar deesdae word regslui na willekeur aangestel, geen wonder dat etlike uitsprake bevraagteken word en in baie gevalle is dit lagwekkend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.