Ma hardloop deur vlamme om peuter te red

Ricardo Human en Karien van der Westhuizen saam met hul kinders, Ramos, Romano en Kiara. Foto: Verskaf

Ricardo Human en Karien van der Westhuizen saam met hul kinders, Ramos, Romano en Kiara. Foto: Verskaf

ʼn Ma van Pretoria het Maandag vertel hoe enkele minute die verskil tussen lewe en dood was nadat haar gesin se huis met al hul besittings in ʼn brand verwoes is.

Karien van der Westhuizen (28) en haar 16 maande oue dogtertjie, Kiara, het brandwonde aan hul gesigte en hande opgedoen nadat Van der Westhuizen met Kiara in komberse toegedraai deur die vlamme na buite gevlug het. Van der Westhuizen se verloofde, Ricardo Human, en sy twee seuns, Ramos (6) en Romano (7), is gelukkig ongedeerd.

Die brand het Dinsdagaand by die gesin se huis in Kameeldrift-Oos uitgebreek. “Ek het die aand vir Kiara aan die slaap gemaak en self vroeg in die bed geklim. Ricardo het vir die seuns Bybel gelees en hulle in die bed gesit en later ook kom slaap,” het Van der Westhuizen aan Maroela Media vertel. “Ek weet nie hoe laat dit was nie, maar Ricardo het in die nag wakker geword omdat hy gedink het hy hoor ʼn kraan wat drup. Toe hy in die kombuis kom, was die hele kombuis klaar aan die brand.”

Human het gehardloop om Van der Westhuizen wakker te maak en vir haar gesê sy moet vir Kiara kry en uit die huis uit kom. Hy het vir Ramos en Romano gekry en met hulle na buite gehardloop.

Kiara Human. Foto: Verskaf

Kiara Human. Foto: Verskaf

“Ek het vir Kiara uit haar kot opgetel, maar toe ek omdraai, het die vlamme reeds by die deur ingekom,” het Van der Westhuizen gesê. “Al wat ek kon doen, was om die komberse om Kiara te draai en deur die vlamme te hardloop om buite te kom. Ons was skaars buite, toe gee die hele dak van die huis in. Brandweerbeamptes het later vir ons gesê as Ricardo net ʼn paar minute later wakker geword het, sou hulle ons moes begrawe.”

Van der Westhuizen en Kiara is by ʼn hospitaal vir hul brandwonde behandel en Kiara moet sedertdien elke tweede dag teruggaan sodat die wonde skoongemaak kan word. “Dit gaan goed met haar, maar sy het baie pyn,” het sy gesê.

“ʼn Berader wat ons ná die brand gesien het, het gesê Kiara sal later wanneer sy ouer is vir traumaberading moet gaan. Sy sal dalk nie die brand onthou nie, maar sy gaan die pyn onthou en dit kan haar aantas. Dit is vir ons almal baie moeilik. Ons kan nie slaap nie en ek en Ricardo dink heeltyd aan wat kon gebeur het. Dit is nie maklik om die voorval te verwerk nie.”

Die gesin bly intussen by Ricardo se ma terwyl hulle op soek is na nuwe blyplek. “Dit gaan finansieel swaar omdat ons nie versekering gehad het of ʼn mediese fonds het nie. Ramos is in 2014 met bloedkanker gediagnoseer en dit was finansieel ʼn baie swaar las op ons. Gevolglik moes ons baie van hierdie goed prysgee,” het Van der Westhuizen gesê. “Ramos is nou in remissie, maar ontvang steeds chemobehandeling.”

Sy het gesê die oorsaak van die brand word steeds ondersoek, maar daar word vermoed dat ʼn elektriese fout die oorsaak kon wees. Intussen het talle mense reeds na die gesin uitgereik om te help met meubels, kruideniersware en klere vir die kinders. “Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang. Ons gesin is al deur baie en ons sal ook sterker hierdeur kom. Ricardo is ons held. As dit nie vir hom was wat betyds wakker geword het en ons gered het nie, kon ons almal dood gewees het,” het Van der Westhuizen gesê.

Enigiemand wat die gesin graag finansieel of andersins wil bystaan, kan Van der Westhuizen by 074 293 1755 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marianne ·

Goeie genade Dank aan God dat julle ALMAL lewe.
Noenoe tannie weet jy het einas maar jou einas gaan weer gesond word.
Karien jy is ‘n heldin… Jy is ‘n ma duisend.
Sterkte aan Karien en Richardo – julle het baie verloor, julle lewens sal weer opgebou kan kan word.
Ek dank God Jul gesin is saam en veilig.

N ·

Ons kan net dankie se vir God. Dit is deur Sy genade dat julle betyds die vuur gesien het. Karien ek stem jy is n heldin. Enige ma wat haar sout werd is sal ENIGEIETS doen om haar kinders te red. Baie sterkte aan julle almal. Julle lewens sal weer regkom. Hierdie moeilike tyd sal regkom. Ek bid dat julle brand wonde vinnig genees. Ai daai arme ou meisietjie. Ek bid ook dat Ramos gesond sal bly. Julle is al deur so baie. Sterkte aan die hele gesin. Mag God julle genees – binne en buite.

broos ·

die liefde van ‘n ouer, so bitterlik kosbaar. sterkte aan die hele gesin!

CommentQueen ·

Hartseer storie met n mooi einde. Baie dankbaar dat almal veilig is.
Jy is n yster mamma♡

Jeanne Britz ·

Julle is wonderlike ouers, julle kosbaarste besittings was die belangrikste. Baie sterkte, en weet God sal julle dra en hierdie tyd sal ook verbygaan. Sterkte met brandwonde en word gou beter.

Willie ·

Wat n noue ontkoming. Baie bly julle kon almal daar uit in tyd! Dank die Vader julle almal leef!

charlene ·

Kyk ons dank die Here julle lewe, Wat `n ma net nie sal doen nie.
Mens sal dink na julle seun kanker gewen het, dinge sal begin beter gaan. Ek bid vir julle en dat julle as gesin bo sal uitkom, jy is `n baie sterk vrou en ma. Jou kinders sien jou presies vir wat jy is `n Heldin met `n hart van goud. en as jou dogtertjie bietjie ouer is en sy het dalk nog merkies aan haar sal sy dit sien as wat kom gebeur het as haar mamma nie daar was nie, sy sal altyd onthou dat haar mamma haar alles gegee het om haar lewe te red.

Suzette ·

@Charlen…Sjoe ek stem met jou saam. Wat n werklike ouer nie als vir sy kind sal doen nie. Karien die Here het n mamma soos jy met die hand uitgesoek. Dis wat n werklike omgee mamma doen. Gaan deur vuur vir dit wat vir hulle kosbaar is. Kan nie help om ook stukkend te voel ten koste van die goeie nuus nie. Ek ken n ma, selfde ouderdom as jy Karien wat bereid is om haar 2 eie biologiese kinders net so te verlaat en te los omdat sy kastig skoon sonder hulle en haar man wil begin. Een word volgende maand 3 en die ander een is net oor n jaar. En ek wonder hoe, hoe kan sy dit wil doen. Jy is God se sieraad vandag vir jou onbaatsugtige daad, jy en Ramos wat ten koste van julself eerste aan julle kindertjies gedink het. So dankbaar julle is gespaar. Sterkte met julle pad vorentoe,

Pappapiet ·

Sjoe! Julle is awesome-en veral jy, mamma! Onthou altyd dat ook die goeie hemelse Vader net so oor julle besorg is!

Jeanne ·

Jys absolute heldin. Dankie dat jy aan al jou kinders gedink het en dankie dat almal veilig is, ek voel so jammer vir jou en Kiara wat verbrand het, ek kan op die fotos die brandwonde op haar ou handjies en koppie sien. Sterkte en mag julle albei ten volle genees.

KarooKlong ·

Lofsang aan die vrou en haar verloofde. Altwee is helde. Drie kinders is gered.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.