Ma herleef hoewe-aanval wat dogter eis

Grieta Spiers (Foto: Facebook)

“Deur die Here se genade is my lewe daardie dag gespaar.”

Grieta Spiers (65) en haar dogter, Chantel Kershaw (44), is einde September deur twee mans op hul kleinhoewe digby Sundra in Mpumalanga oorrompel en aangeval. Kershaw is tydens die aanval vermoor.

Die vroue se tuinwerker, Themba Moses Masuku, was glo kop in een mus met die aanvallers. Moses, soos Spiers hom noem, werk al die afgelope vyf jaar vir hulle.

Moses het daardie middag omstreeks 13:00 vir Kershaw na buite geroep om haar iets te vra.

“Hy het haar op dié manier na buite gelok,” vertel Spiers wat in die huis gesit het en besig was om ’n resep van haar tablet af oor te skryf.

“’n Man het skielik voor my kom staan en ’n vuurwapen op my gerig. Ek het van my tablet opgekyk en die oomblik het so onwerklik gevoel.”

Hy het met sy hand beduie dat hulle in die kombuis se rigting moet loop.

“Hy het my baadjie oor my kop getrek en ’n lap in my mond gedruk. My voete is met ’n klein handdoek vasgemaak. Hy het my seergemaak en probeer verwurg. Hy het my regterarm so getrek, hy het hom amper uit die potjie getrek.”

Die man het haar skielik gelos en na die badkamer gestap waar die huiswerker haarself toegemaak het. Spiers het haarself losgewikkel en die tweerigtingradio gegryp en na buite gehardloop. Sy het die buurtwag en omliggende boere se hulp ontbied.

Spiers het tot by die hek gehardloop terwyl sy oor die radio hulp geroep het en gesien hoe iemand met haar bakkie daar verbyjaag. “Ek het gedink dit is dalk my dogter in die bakkie.”

Kershaw se liggaam is daarna in die motorhuis aangetref. Sy is verwurg.

Chantel Kershaw (Foto: Facebook)

Die mans het onder meer ’n grassnyer agterop Spiers se bakkie gelaai en gevlug. Hulle is ook met haar tablet vort.

“Ek vermoed hulle het gedink daar is geld in die kluis. Ek dink as ek nie weggekom het nie, sou die man geëis het dat ek die kluis oopsluit en hy sou my dan net daar doodgeskiet het. Die Here se Hand was op daardie oomblik oor my gehou.”

Nadat Spiers hulp oor die radio geaktiveer het, het hulle die verdagtes in die gesteelde bakkie agternagesit. Die aanvaller wat die bakkie bestuur het, het op die R50, ongeveer 14 km van die kleinhoewe, beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.

Een van die verdagtes is ernstig beseer en is met ʼn ambulans na die hospitaal geneem. Die ander verdagte is op die toneel in hegtenis geneem. Moses is ook kort daarna in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die aanval.

Spiers is besig om haar huis op die kleinhoewe op te pak en gaan by haar ouers, tweelingsuster en broer in Benoni woon.

Haar man is Mei vanjaar na ’n lang siekbed oorlede.

“Party dae is beter as ander; die trane lê maar vlak. Ten spyte van wat gebeur het, bly die Here goed vir my.”

Spiers het ook die buurtwag bedank vir hul spoedige reaksie op die dag van die aanval.

“Ons het ’n fantastiese buurtwag. Hulle het binne etlike minute die mans vasgetrek. Ek is ook baie dankbaar vir die gemeenskap se ongelooflike ondersteuning die afgelope paar weke.”

Chantel was ’n baie gawe en sagmoedige mens, vertel Spiers. Sy sou nie sommer vinnig vir iemand kwaad geword het nie.

“Sy was ’n groot Christen en baie lief vir die Here. Haar hart was opreg.”

Moses en nog twee mans, Reuben Thomas Tivane en Elvis Kenneth Mashego, het verlede week Dinsdag in die Delmas-landdroshof verskyn en hul borgtogaansoeke laat vaar. Die saak is tot 26 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Die drie mans staan tereg op aanklagte van moord, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Spiers het ook die dag die hofverrigtinge bygewoon.

“Ek wou hulle in die oë kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Mens het nie meer woorde nie… Ek dink ons mense nie liberaliste is op plofpunt… ek het nog nooit in my lewe so gehaat soos nou nie…

Dup

Die skade is aangerig en die kleinhoewe gaan uit vrees seker nie weer deur opgevoedes bewoon word nie.Dit sal dan een of ander tyd deur “plakkers” beset word.Alles deel van die meesterplan.

Landi

EFF ouens is lankal besig met n laffaard oorlog, wat soos hakskeenbyters opdaag. Die boer betaal belasting wat Malema se salaris betaal. Die boer skep werk en voorsien kos aan n hele land. Malema skep terrorisme en oorlog…GEEN werk en deel ook nie sy rykdom met sy kastige lui dom ‘poverty ‘ tjommas nie – maar kyk, geniet Malema nou vir jou n kolloniale leefstyl?! Die goeverment koester kriminele wat eie is aan hulle, maar geen bydrae lewer. So, nou verlaat boere plase en ander die land. Wie gaan Malema se sallaris betaal en kos op sy tjommas se tafels… Lees meer »

Sandra

Dit is so bitter tragies. Ek is verstom Dat daar nog boere is wat kos aan ons land verskaf. Ons Vader moet nou maar Kom om ons te verlos van hierdie wereld. Ek Kan nie wag om ontslae te wees van AL die geweld En misdaat nie. Mag God hulle vergewe.

Diva

Ai vroutjie …mag jy vrede in jou hart kry
Sterkte vorentoe.