Ma ‘het rustigheid’ al weet sy nog nie baba is dood

Shanei Norris en Reanei (Foto: Facebook)

Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie in Maart in ʼn botsing dood is, is al die afgelope week in ʼn rehabilitasiehospitaal waar sy nou intensiewe terapie moet ontvang.

Intussen het Norris begin om van haar dogter, Reanei, te praat, maar het sy steeds geen idee dat die kleinding oorlede is nie.

Noelene van Blerk, ʼn vriendin van Norris, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Norris verwys nooit uit haar eie na Reanei nie, maar onthou haar wel wanneer sy oor haar uitgevra word. “Ons het haar byvoorbeeld gevra wat is die tatoeëermerk op haar bors, dan antwoord sy dit is Reanei, haar baba, se naam. As ons haar vra waar is Reanei, dan sê sy sy het haar vanoggend by die dagskool gaan aflaai,” verduidelik Van Blerk.

“Soms sê sy Reanei se pa het haar kom haal. Ander kere sê sy Reanei is by haar vriendin. Sy vra nooit dat sy Reanei wil sien nie, maar ek vermoed dit is omdat sy altyd onder die indruk is dat sy haar net ure vantevore gesien het. Sy het ʼn ongelooflike rustigheid as sy oor Reanei praat.”

Volgens Van Blerk is Norris só deurmekaar dat daar geen sin daarin is om haar van Reanei se dood te vertel nie. “As jy haar vra watter jaar dit is, dan het sy elke keer ʼn ander antwoord. Ons het haar verduidelik dat sy in ʼn motorongeluk was en dan verstaan sy dit en bevestig dit, maar die volgende dag vertel sy weer sy het uit ʼn ambulans geval en dit is hoe sy seergekry het. Sy kan nie van een dag na die volgende onthou wat sy die vorige dag gedoen het nie.”

Daar is reeds vroeër ʼn gedenkdiens vir Reanei gehou waar haar pa, ander familie en almal wat vir haar lief was finaal kon afskeid neem. Die hele diens is op foto’s en video vasgevang sodat Norris êrens in die toekoms daarna kan kyk indien sy wil.

Dit is tans nie duidelik of Norris se geheueverlies met ʼn toestand van skok verband hou en of sy moontlik breinskade het nie. Volgens Van Blerk fokus hulle nou eers op haar fisioterapie, arbeidsterapie en sielkundige berading, en dokters sal soos sy vordering maak ʼn beter prognose oor haar geheueverlies kan maak.

Van Blerk vertel dat Norris se spiere aansienlik verswak het omdat sy so lank in die hospitaal was en dat die fisioterapie daarom nou van kardinale belang is om haar been- en voetspiere te versterk sodat sy in staat kan wees om te loop.

Maroela Media het vroeër berig Norris en Reanei was op 23 Maart in ʼn botsing in Drie Riviere betrokke. Reanei is op slag dood, terwyl Norris met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is. Norris se regterbeen en regterarm is gebreek, haar milt moes verwyder word en sy is geopereer vir ʼn skeur in haar lewer wat inwendige bloeding veroorsaak het.

Nadat sy lank in ʼn staatshospitaal en later ʼn private hospitaal behandel is, is sy verlede week na die rehabilitasiehospitaal oorgeplaas.

Norris het nie ʼn mediese fonds nie en haar familie het ʼn fondsinsameling van stapel gestuur om haar mediese onkostes te dek. Vir meer inligting oor Norris se vordering of die trustbesonderhede waardeur geld vir haar mediese onkoste ingesamel word, besoek die Facebook-groep Mommy Shanei of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GM ·

Ek sou nie wou hê dat daardie ‘wolk van geheueverlies’ sou moes lig as dit ek was nie. Baie sterkte aan die mamma, pappa en hul naasbestaandes. Dit is vreeslik hartseer.

Karien ·

Los die arme vrou met goed wat sy ooglopend nie onthou nie, dat sy eers gesond word!!!

Hartseer ·

Ai, my hart gaan uit na Shanei, die familie en vriende. Mag God oor jul waak in die moeilike tyd, mag God jul toevou in sy liefdevolle Hande en die nodige troos en lyding gee.

jessica ·

Please can someone tell me where is the baby’s father???

jessica ·

waar is die baba se pa, niemand praat van hom nie, is hy oorlede.

Pappa ·

Die pa en ma is uitmekaar, hy lewe en het ‘n gedenk diens vir sy dogtertjie gehou. Hy gaan kuier ook gereeld in die hospitaal vir Shanei. Bid vir ‘n vinnige herstel vir die mamma dis so hartseer…

Nettie ·

Good heavens, Jessica, why are you so obsessed about the baby’s father? The baby died, the mother is having multiple problems and recuperating from the injuries and you keep on and on and on about the father? The father is alive, well and kicking, though the mother and he went their separate ways. He is still supporting his ex and held a service for his baby daughter. Are you NOW satisfied???

GM ·

Jessica, vorige berigte het al na die pa verwys. Volgens ander mediagroepe, is die man en die vrou geskei. Die berigte verwys spesifiek na die ma se beserings en haar vordering, en ek glo dis dalk daarom dat hul nie veel uitbrei oor die pa nie. Ons as MM-lesers, hoef seker nie altyd ALS te weet nie.

MM ·

Jessica, ek verstaan nie hoekom dit belangrik is waar die pa is nie – maar as jy die hele berig mooi lees…..dan sal jy sien daar is ‘n gedenkdiens gehou vir Reanei waar haar PA en ander familie van haar kom afskeid neem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.