Ma hoop haar kind se moordenaar sit lank

Catherine Wannenburg Dinsdag buite die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Catherine Wannenburg Dinsdag buite die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Catherina Wannenburg (46) het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof  verskyn om ter verswarende omstandighede te getuig teen die vrou wat haar vyfjarige seun 11 jaar gelede vermoor het.

Wannenburg se seun, Gershwin Isaacs, het weke voor sy dood by sy pa, Russel Hansen, en stiefma, Natasha (36), ingetrek. Gershwin is op 28 Mei 2004 met kopbeserings en kneusplekke in ʼn hospitaal opgeneem en is kort daarna dood. Natasha is in Desember 2004 in verband met sy dood in hegtenis geneem en was vir 11 jaar lank op borgtog vrygelaat totdat sy in Desember verlede jaar skuldig bevind is aan moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat Natasha gereeld vir Gershwin geslaan het.

Wannenburg het Dinsdag in die hof getuig sy het destyds Gershwin na sy biologiese pa gestuur aangesien sy werkloos was en nie geld gehad het om na hom om te sien nie. Sy het gesê dat Natasha en haar familie nooit met haar oor Gershwin se dood gesimpatiseer het nie en nooit om vergifnis gevra het nie.

Wannenburg het ook gesê Gershwin was haar enigste kind en dat sy nie meer swanger kan word nie.

Victor Synders, die ondersoekbeampte, het ook ter verswarende omstandighede getuig. ʼn Proefbeampte en ʼn beampte van korrektiewe dienste het Maandag direkte tronkstraf voorgestel.

Wannenburg het ná die hofverrigtinge aan joernaliste gesê sy mis haar seuntjie baie. Sy het hom beskryf as ʼn stil seuntjie en sy het gedink hy sou veilig wees by sy pa en stiefma. Sy het gesê haar seuntjie het nooit vir haar vertel dat hy geslaan word nie en sy het geen idee gehad dat hy mishandel word nie.

Finale argumente sal na verwagting Woensdag aangehoor word en die vonnisoplegging word Donderdag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wiekster ·

Baie hartseer, hoe kan iemand n kind so seermaak. My innige simpatie met die ma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.