Ma hou kop toe kapers op gesinsmotor losbrand

Dié buiteband is deur ses skote getref. (Foto: Facebook)

“Ek het net besluit daar is nie ’n manier dat hulle aan my óf my kinders vat nie… Ek het afgebuk en voet in die hoek gesit.”

Só vertel ’n ma van Pretoria nadat kapers Maandag verskeie skote op haar en haar twee kinders in hul gesinsmotor naby die Krugerwildtuin afgevuur het.

Melani de Beer (39) het tydens die voorval kopgehou en laat spat mét ’n sleepwaentjie en ’n stukkende buiteband wat deur ses skote getref is.

Daar word vermoed dat die kapers tussen 12 en 15 skote op die gesinsmotor afgevuur het. De Beer se 14-jarige dogter wat in die passasiersitplek gesit het, is in die proses in haar been gewond en moes sedertdien ʼn operasie ondergaan. De Beer verkies om nie haar kinders se name te noem nie.

Sy vertel dat sy gister die wildtuin by die Numbi-hek verlaat het nadat sy en haar kinders vroeër in Pretoriuskop gekamp het. Die gesin was op pad huis toe. Op die R538 by Mganduzweni Trust het sy spoed verminder weens spoedhobbels in die pad.

“My dogter het voor langs my gesit en my seun (11) het agter my op die agterste sitplek gesit. Ons het stadig oor die hobbel gery want ek het nog ’n sleepwaentjie ook gehad.

Só lyk die gesin se motor nadat die verdagtes skote op hulle afgevuur het. (Foto: Facebook)

“Vanuit nêrens het twee ouens voor my motor verskyn.

“Ek het gesien hoe die een sy geweer begin oorlaai. Hy het iets geskree en toe begin skiet. Ek het my arm oor die passasiersitplek gegooi en my kind afgedruk sodat sy terug in die sitplek lê. Dit het alles in ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur. Ek het afgebuk en petrol getrap.”

Die kapers het verskeie skote op die motor afgevuur terwyl De Beer weggejaag het. Dié skote het onder meer ’n buiteband, die ruit waar De Beer se dogter gesit het en die motor se enjinkap getref.

De Beer onthou dat sy etlike kilometer met die stukkende buiteband na veiligheid gery het.

“Ek het aanhou ry al was die band flenters en het my hand op my kind se been gehou om die bloeding te stop.”

Só lyk die gesin se motor nadat die verdagtes skote op hulle afgevuur het. (Foto: Facebook)

Sy het eindelik op die Witrivierpad, sowat agt kilometer verder, stilgehou. ’n Motoris wat die skietvoorval sien gebeur het, het die gesin agtervolg en by hulle stilgehou om hulp te verleen.

Die man het die buiteband omgeruil terwyl die polisie ontbied is. “Ek was baie dankbaar,” vertel De Beer nou.

Haar dogter is later met ’n ambulans na ’n private hospitaal in Mbombela (Nelspruit) geneem vir mediese behandeling.

De Beer vertel dat die koeël haar dogter se bobeen binnegedring en weer verlaat het. Haar dogter het Dinsdagmiddag ʼn operasie ondergaan sodat die wond skoongemaak kon word en sal na verwagting Woensdag ontslaan kan word.

“Ek wil net in my eie bed slaap,” vertel De Beer ná haar gesin se noue ontkoming.

“Dit is ʼn baie traumatiese ding. Jy besef nie wat aangaan nie. Ons het baie om te verwerk. Die Here het ons veilig gehou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Misky ·

Dankbaar dat julle die aanval oorleef het. Die gemors voel niks vir niemand nie!!!!

sopbeen ·

Sjoe, dit moes verskriklik vreesaanjaend gewees het. Dankbaar hulle het almal dit oorleef.

Nie Verbaas ·

Jy is seker trots op die gemors wat julle ANC in ons land kweek CR.

Corne123 ·

Sulke wetter waar is die minister????? skiet jy terug en skiet een dood is jy in die moelikhied maar hulle kom weg daarmee in SA

Hennie ·

Wonder wat ons oorlede Biskop Tutu sou sê oor hoe die ANC die land laat agteruitgegaan.

SomeOne ·

baie mooi gedink, dank die Vader dat jul veilig is, glo die herstel sal spoedig wees
jammer dat nie een was voor haar voertuig gewees nie
dankie ook aan die hulp wat agter haar aangery het, “well done”

Andries ·

Slim gedink en hul nie hul sin gegee het nie. Al agter gekom dat alle toegangsroetes na alle dorpe, stede , en waar daar vekeer moet wees, beplak word.

Christine ·

Jy is reg, Andries, hulle letterlik omsingel die dorpe en stede en word net meer en meer.

JL ·

Mooi kopgehou mevrou. Hoop jou dogter herstel gou en dat julle die trauma goed verwerk.

Yvonne ·

Dankbaar lewens is gespaar….die dame kan kop hou…Bravo…dankie Here

Yolandie ·

Wow hierdie hele insident kon baie aaklige einde gehad het vir die ma en haar kinders. Die Here het hulle werklik behoed en bewaar. Aan die persoon wat angterna gery het en hulp verleen het……daar is nog goeie mense in die wereld. Welgedaan aan die mamma……jy is ‘n held!!!!!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom sou enige ingeligde potentiële buitelandse besoeker enigsins nog die Kruger Wildtuin wou kom besoek? Daar is baie veiliger wildtuine elders in Afrika.

Niklaas ·

Ek en my vrou en ons vriende ry daai pad gereeld weens die Malelane tolpad werke. Nooit weer nie. Elke keer is daar iets nuuts wat die kriminele uitdink. Nerens is mens meer veilig in SA nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.